CALITZDORP NUUS - Die verhoor van ses mans van Calitzdorp wat teregstaan op aanklagte van menseroof, roof met verswarende omstandighede en aanranding is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof tot 21 Mei uitgestel vir Judicare-regsverteenwoordiging vir een van die beskuldigdes.
Donovan Wagenaar, Adrian Jansen, Nathan Grootboom, Ruiter Kamoetie, Renaldo Jelander en Jeraad Meshoa word daarvan aangekla dat hulle op 3 Januarie 2016 vir Petrus Pieterse met kapmesse gedreig of geslaan, hom van R5 080 kontant, twee selfone en 30 bottels bier beroof het.
Hulle word ook daarvan aangekla dat hulle Gerhard Jelander (37) aangerand en Coenraad Snyman (54), bekend as 'Master', in sy motor gedwing en forseer het om met hulle van die toneel weg te ry.
Eugene Roos van die Regshulpraad, het die hof gister meegedeel dat die aansoek van Kemoetie vir Judicare nog nie afgehandel is nie, en die hof vir uitstel gevra.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni.
Wagenaar en Kemoetie is op borg terwyl hul medebeskuldigdes in aanhouding bly.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’