Update
OUDTSHOORN NUUS - "Alles gebeur met ‘n doel." So het apostel Phillip Olyn Sondagoggend in ‘n stampvol Nirvadasaal in Bongolethu aan die bedroefde familie van die ses mense waaronder ‘n baba van ‘n jaar en sewe maande, op 12 Januarie grusaam in hul woonstruktuur in Kanaalweg doodgebrand het.
Honderde inwoners van veral die informele woongebiede, Kanaalweg en Black Joint, het die diens bygewoon.
Die oorledenes, Tiena Mei (70), Arrie Mei (60), Katrina Mei (51), Isak Mei (29), Patricia Mei (22) en Payton Mei (1,7 maande) was aan die slaap toe hul blyplek onverklaarbaar begin brand het. Mense wat die vuur probeer blus het kon vanweë die erge vlamme nie tot die ses se redding kom nie.
Die diens is ondermeer ook bygewoon deur die burgemeester van Oudtshoorn, Chris Macpherson, enkele raadslede en talle geestelike leiers.
Apostel Phillip Olyn het die familie getroos na aanleiding van Johannes 16:23 wat lui: "Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin."
"Ons sal verdrukking hê. Dinge soos die dood, siektes, haat, gemeenskappe wat teen mekaar opstaan is alles verdrukking. In die verlede was my kind jou kind en jou kind myne, maar dit het alles uitgesterf en is deel van die verdrukking," het Olyn gesê.
Inwoners van Kanaalweg het met brandende kerse die lied Dit is so hard om totsiens te sê, gelewer met begrafnisgangers wat saamgesing het.
Raadslid Zoe Tyatya, het namens die munisipaliteit en inwoners meegevoel met die oorledenes se naasbestaandes betuig en vir samewerking tussen gemeenskappe gepleit.
Hy het ook dank en waardering uitgespreek teenoor Strydom Begrafnisdienste wat die begrafnis gratis vir die familie waargeneem het.
Elsie Fortuin het in haar huldeblyk die bedroefde familie gevra om die Here in hul lewens aan te neem.
Vorige artikel:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'