OUDTSHOORN NUUS - Na alle verwagting sal daar van die week af verwikkelinge by die perseel wees waar die nuwe winkelsentrum op die hoek van Langenhovenweg en Rademeyerstraat beplan word.
Volgens Hannes Visser, woordvoerder van burgemeester Chris Macpherson, se kantoor, is die perseel Vrydag amptelik aan die kontrakteur, Ruwacon, oorhandig.
"Die munisipaliteit se waarnemende direkteur van infrastruktuur, Chris Swart en raadslid Johan Fourie, portefeuljevoorsitter infrastruktuur het Vrydagoggend by die terrein saam met verteenwoordigers van Dorpstraat, wat die ontwikkeling doen, en Ruwacon vergader."
Visser sê Ruwacon het bevestig dat hulle reeds hierdie week begin met terreinvestiging en aflewering van materiaal.
"Die verskuiwing van 'n munisipale rioollyn wat oor die grond loop, sal een van die eerste dele van die projek wees. Inwoners en sakelui het die afgelope week uiters positief gereageer op die nuus dat die ontwikkeling van die winkelsentrum voortgaan."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’