OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn United Congregational Church (OUCCSA) het die jaar afgesluit met 'n ete vir oues van dae.
Die gemeente is sedert 1838 in die dorp en die pragtige sandsteen kerkgebou het altyd op die hoek van St John en Baron van Reedestraat gestaan, maar is gesloop met die groepsgebiede wet toe die kerk uit die dorp moes skuif.
Benewens 'n vingerlek-lekker driegangmaaltyd, is elke vriend van die gemeente is ook bederf met 'n spesiale wegneempakkie as teken van waardering vir hul jare lange betrokkenheid.
Die dag se program was ryk en betekenisvol. Gemeenteleraar ds. Johannes Muggels het 'n inspirerende Christelike boodskap gebring wat die hart aangeraak het, gevolg deur 'n waardige nagmaaldiens.
Hierdie geestelike oomblikke het 'n gevoel van vrede en eenheid oor die byeenkoms gebring.
'n Hoogtepunt van die dag was beslis die diepgaande, emosionele en gevoelvolle gesprek deur br. Japie Coetzee, waarin hy op eerlike wyse gedeel het oor die lewe as 'n wewenaar.
Sy hartroerende getuienis oor die vermissing en leegheid wat die afsterwe van 'n lewensmaat laat, het verskeie gemeentelede diep geraak. Sy woorde het nie net pyn weerspieël nie, maar ook hoop, geloof en die krag van gemeenskap.
Die geleentheid was 'n kosbare herinnering aan hoe belangrik dit is om mekaar te dra, veral in die latere jare van die lewe. Die OUCCSA sien met dankbaarheid terug op 'n dag vol seën en saamwees en met hoop vorentoe na nog vele sulke betekenisvolle byeenkomste.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’