OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, het Vrydag 16 Mei die heropening van die ou sementpad, ná ’n omvangryke rehabilitasieprojek van R250 miljoen, amptelik aangekondig.
Die pad, wat strek vanaf die kruising naby die Calitzdorp-warmwaterbronne tot by die aansluiting op Roete R62, val binne die grense van die Kannaland- en Oudtshoorn-plaaslike munisipaliteite in die Tuinroete-distriksmunisipaliteit.
Volgens Jandré Bakker, waarnemende direkteur vir operasionele ondersteuning, is die Ou Sementpad een van die oudste betonplaveiselpaaie in Suid-Afrika en was dit reeds vir meer as vyf dekades in gebruik.
“Hoewel die pad in die geheel agteruitgegaan het, het sommige van die oorspronklike betonpanele steeds geen krake getoon nie. Die departement van infrastruktuur is vol vertroue dat hierdie projek ’n beduidende bydrae sal lewer tot die landbou-, toerisme- en ekonomiese ontwikkeling in die streek,” het Bakker gesê.
Simmers het verduidelik dat die projek aan die einde van 2021 van stapel gestuur is as deel van die departement se reaksie op die nasionale Covid-19-ramp, en dat dit teen einde Februarie 2025 voltooi is.
“Ek glo dat infrastruktuurontwikkeling ’n kragtige instrument is om werksgeleenthede te skep. In hierdie geval is 298 poste geskep. Gedurende die projek is vier nuwe keermure gebou, vyf duikers geïnstalleer en drie brûe verbreed.”
Die burgemeester van Kannaland, Jeffrey Donson, het die seremonie van die lintknip bygewoon en sy dank uitgespreek teenoor die Wes-Kaapse regering vir hul belegging in plaaslike ontwikkeling en bemagtiging.
Simmers het ook waardering uitgespreek teenoor die projekspan onder leiding van hoofingenieur en kontrakkoördineerder, Keegan de Waal.
“Ek wil ook padgebruikers bedank vir hul geduld gedurende die konstruksieperiode, asook die positiewe samewerking met plaaslike gemeenskapsliggame en die landbousektor wat daartoe bygedra het dat enige ontevredenheid of ontwrigting tot die minimum beperk is,” het hy bygevoeg.
Ten slotte het Simmers ’n beroep op padgebruikers gedoen om verantwoordelikheid te neem vir die instandhouding van die nuwe pad. “Ons bou en verbeter paaie, nou het ons padgebruikers nodig om hul deel te doen. Die pad is ontwerp vir ’n snelheid van 80 km/h, en dit is van kardinale belang dat voertuie nie oorlaai word nie, en dat alle spoedbeperkings en verkeersreëls nagekom word,” het hy afgesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’