OUDTSHOORN NUUS - ‘n Groep sekerheidswagte in diens van Metro City Protection Services (MCPS) het vanoggend voor die maatskappy se Oudtshoorn-kantore byeen gekom en daarop aangedring dat hulle salarisse betaal word.
Volgens een van die wagte moes hulle reeds op 5 Mei betaal word.
Hy het ‘n brief aan die Oudtshoorn Courant getoon waarvolgens die maatskappy aandui dat salarisse weens “administratiewe kwessies” op 10 Mei betaal sou word. Dit is egter nie gedoen nie.
MCPS is deur die munisipaliteit aangestel om sekerheidsdienste by munisipale persele te verskaf.
Volgens die ontstelde personeellede het die munisipaliteit reeds op 15 April die geld aan MCPS oorbetaal. ‘n Werknemer van MCPS het vanoggend egter gesê hulle het nog nie ‘n betaling ontvang nie.
‘n Dringende navraag is aan die munisipaliteit gestuur om te bevestig of die gelde wel betaal is of nie.
‘n Navraag aan MCPS se hoofkantoor in Somerset-Wes het nog nie op ‘n navraag reageer nie. Die munisipaliteit het gesê hulle gee tans aandag aan die navraag. Hulle reaksie sal geplaas word sodra dit ontvang is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'