KLEIN KAROO NUUS - Op 4 April kry Suid-Kapenaars kans om hul stemme dik te maak oor grondonteiening sonder vergoeding.
Die parlementêre ad hoc-komitee op die wysiging van artikel 25 van die Grondwet van Suid-Afrika, hou op 4 April op Mosselbaai ‘n openbare verhoor oor dié hoogs kontroversiële onderwerp.
Daar is reeds besluit dat artikel 25 gewysig moet word, so die verhoor - een van talle dwarsoor die land - fokus slegs op die aard van die onteieningswysigings. Talle opposisie partye en organisasies is gekant teen die wetsontwerp wat beoog om die besluit oor onteiening van die howe na die uitvoerende gesag te skuif.
Dit moet nog bevestig word waar op Mosselbaai die openbare verhoor gehou sal word. Dit is oop vir almal en het ten doel om komiteelede insae, en hopelik ook insig, te gee in die publiek se menings en vrese. Die afsnypunt vir geskrewe kommentaar was reeds einde Februarie.
Die totale komitee bestaan uit 14 LP’s van verskeie politieke partye wat in twee groepe van ses en agt die land deurkruis. Die DA se verteenwoordiger op die komitee van ses wat Mosselbaai besoek, dr. Mimmy Gondwe, sê die DA sal die wysiging hand en tand beveg, en neem deel aan die proses om soveel inligting moontlik in te win om hul saak te versterk. Interessante parlementariërs in Groep A wat saam met Gondwe Mosselbaai toe kom, is die EFF-leier, Julius Malema, voormalige ANC-hoofsweep Mathole Motshekga, en Madiba se kleinseun, Mandla Mandela, ook van die ANC.
Die ander Groep A-komiteelede is die ANC LP’s Dibolelo Mahlatsi en Nolitha Ntobongwana. Jaco Londt LP, DA-streekvoorsitter en Mosselbaai se kiesafdelingshoof, sê dit is van kritieke belang dat alle individue, organisasies en rolspelers regoor die SuidKaap, maar veral Mosselbaai, mobiliseer en hul teenkanting duidelik uitspreek.
“Daag asseblief op 4 April op en laat u stem hard en duidelik hoor.”
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'