OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van De Rust, met 12 vorige veroordelings, wat tereggestaan het op aanklag van poging tot moord en drie van aanranding met die opset om ernstig te beseer, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof, onskuldig bevind op die aanklag van poging tot moord.
Isak Sauls (38) het onskuldig gepleit en aangevoer dat die klaers ‘n fout maak met sy identifikasie. Hy het ontken dat hy op 13 Julie 2019 met ‘n mes na Trevor Potgieter gesteek het, ten spyte van die getuienis van Maria Smith wat die voorval gesien het.
Smith het ook getuig dat sy die beskuldigde reeds dertien jaar ken en hy haar uit die tronk met die dood gedreig het.
Sauls het ook ontken dat hy op 24 Augustus 2019 vir Zanelie Wellman, met ‘n mes in die nek gesteek het en op dieselfde dag vir Danville Konstabel en Jaftha Swartbooi met ‘n ou skaapskêr gesteek het.
Hy het ook aangevoer dat Konstabel en Swartbooi die klagtes teen hom gelê het omdat hulle nie gelukkig was met sy verhouding met Wellman nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het bevind dat Sauls se getuienis nie aanvaar kan word nie aangesien hy en die klaers mekaar ken.
Hy is egter onskuldig bevind op die aanklagte van poging tot moord omdat Wellman nie mediese behandeling gekry het nie en ook besluit het om nie te getuig nie.
"Die hof kan nie op ander se getuienis gaan nie. Sy is lewendig en kom nie hof toe nie. Dit sou 'n ander saak gewees het indien dit moord was," het Moni gesê.
Sauls is egter op die drie aanklagte van ernstige aanranding skuldig bevind. Hy het hom weerspreek in sy getuienis ten opsigte van Potgieter en kon nie verduidelik waarom Potgieter vir hom weggehardloop het nie. Snyman en Konstabel is wel beseer en die beskuldigde was saam met hulle.
"Die hof is tevrede dat die staat sy saak bewys het."
Die saak is vir vonnisverrigtinge uitgestel tot 12 Oktober nadat sy regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, die hof meegedeel het dat hy reeds vir drie jaar in aanhouding is. Hyron Goulding was die aanklaer in die saak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'