OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep verteenwoordigers van Oudtshoorn-polisie, die departement korrektiewe dienste, Swartberg Country Manor, NG Kerk Kangovallei en plaaslike kindersorg het hande gevat om met die Santa Shoebox-projek glimlagte op kinders se gesigte te sit vir Kersfees.
Die groep weldoeners het Donderdag 5 Desember besoek afgelê by Karmenaadjie-kleuterskool en die Oudtshoorn-hospitaal se kindersaal om geskenke uit te deel wat deur persone in die gemeenskap, asook die kerkgemeenskap van Kangovallei geskenk is.
Volgens ao. Jacinda April van Oudtshoorn-polisie was dit 'n ongelooflik lekker gevoel om al die kinders so gelukkig te sien.
Die Santa Shoebox-projek het aanvanklik net op landelike skole gefokus.
"Ons is oorweldig met ondersteuning en het soveel geskenke ontvang dat dit moontlik was om drie kleuterskole, die kindersaal by Oudtshoorn-hospitaal, asook Rosevalley-biblioteek in te sluit by die unieke projek."
April spreek haar dank uit teenoor persone wat skenkings gemaak het. "Ons is ongelooflik dankbaar vir die skenkings wat ons ontvang het, sonder die gemeenskap sou ons nie die droom kon verwesenlik nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’