OUDTSHOORN NUUS - Belinda Rensburg, 'n gemeenskapswerker in Black Joint, het die inisiatief geneem om dogters wat van Woensdag af moet terug gaan skool toe, se hare te vleg.
Rensburg verduidelik dat dit haar derde jaar is wat sy die projek aanpak.
"Daar is 'n vrou in Calitzdorp, Jacoline Tiemie, wat so 'n projek by hulle begin het. Ek het gedink dit is regtig oulik en het die inisiatief geneem om dit in Oudtshoorn ook te doen. Dis heeltemal verniet. Ouers moet net kinders se hare voor die tyd self was."
Sewe ander vroue, Estelle du Preez, Dalné Fortuin, Simone Pieterse, Doricia Isaacs, Shahida Jansen, Theresa Strydom en Zubeida Hendricks, het ingespring om haar te help.
Dalné Pieterse het ook gehelp om die meisies se hare te vleg. | Estelle du Preez is besig met een van die meisies se hare. Foto's: Liezl van Niekerk |
Rensburg gee ook aan die kinders wat kom 'n sappie en 'n broodjie.
"Ek weet vandag kan 'n lang dag wees. Ek nooi al die kinders om te kom - om netjies skool te gaan is lekker en dit is goed om die skooljaar op 'n positiewe noot te begin. Ek nooi ook ander mense in die gemeenskap om iets soortgelyk te doen sodat ons die kinders kan help."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’