Die skool is in 1923 deur twee nonne van die buiteland in een klaskamer, ’n rietdakgebou met ’n moddervloer, in Draaistraat, Noord Einde, met elf leerlinge begin. Na die eerste pouse was daar 24.
Die misdiens is gelei deur biskop De Gouveia, bygestaan deur vader Enrico Parry, self ’n oudleerder van die skool, en vader Dettmer.
“Ons is groot dank verskuldig aan die twee nonne en mense van die buiteland wat geld gegee het vir mense wat hulle nog nooit gesien het nie,” het Dettmer gesê.
Volgens hom moes dit ’n verskriklike dag gewees het om te hoor dat die skool weens die destydse Groepsgebiedewet na Bridgton moes skuif.
‘Tog het die Here voorsien. Onderwysers wat toegewyd was het gekom en voortgegaan. Vandag pluk ons die vrugte van hul harde werk."
Verskeie oudleerkragte het die gedenkdiens bygewoon.
In ’n brief wat ’n oudonderwyseres, me. Georgina Midas Beauzec, geskryf het, vertel sy van die ‘goeie dae’ by Sacred Heart.
Sy het 62 jaar gelede, in 1951, by die skool in Draaistraat begin skoolhou en na 35 jaar in 1987, die tuig neergelê.
Sy beskryf die skool as die beste in Oudtshoorn wat in daardie jare omgesien het na die “armste van die armes”.
Sy onthou die bonesop wat daagliks vir die kinders gegee is en dat baie van hulle miskien net daarvoor skool toe gekom het.
Biskop De Gouveia het gesê indien oudpresident Nelson Mandela op Oudtshoorn sou gewoon het, hy waarskynlik as vyfjarige, een van die eerste graad 1- leerders van die skool sou wees.
Die huidige skoolhoof, mnr. Tom Claassen, het gesê dat alles wat die afgelope 90 jaar gebeur het deur beproewing gekom het, en hulde gebring aan sy voorgangers. Hy self het by die ou skool in Draaistraat begin skoolgaan en die leerders aangemoedig om alles wat hulle doen, goed te doen.
Mnr. Chris Swanepoel, kringspanleier van die Wes-Kaapse departement van onderwys, het die skool namens die departement gelukgewens en gesê dit is ’n ongelooflike voorreg om deel te wees van ’n skool wat 90 jaar oud is.
’n Voormalige adjunkhoof van die skool, mnr. Graham Muller, wat die tuig in 2004 neergelê het, het die geleentheid as ’n grootse oomblik beskryf.
“Dit is ’n eer om deel te wees van ’n skool wat verbind is tot ’n kerk en geestelike opvoeding,” het hy gesê.
Hy het ’n beroep op die leerders gedoen om hul skoolloopbane te voltooi, getrou te bly aan die opvoeders en die geestelike inslag van die skool beklemtoon as belangrik.
“Ons moet vandag ook hulde bring aan diegene wat ons reeds vooruit gegaan het,” het hy gesê.
Volgens mnr. Jonathan Wicomb, adjunkhoof, was die misdiens net die afskop van die jaar se feesvieringe.

Mnre. Jonathan Wicomb (adjunkhoof), Tom Claassen (skoolhoof), Phillip Stalmeester, skoolhoof van Aurial Kollege) en dr. Higo Jacobs (afgetrede kringbestuurder van die WKOD) tydens 'n geselligheid Dinsdagoggend ter viering van die skool se 90ste verjaardag.