OUDTSHOORN NUUS - Terwyl die munisipaliteit poog om 'n uitsettingsbevel teen 'n groep mense langs die gholfbaan te laat uitvoer, het inwoners oorkant die pad besluit om die besetters se hande te vat.
Die Backyard Dwellers of Hope plak reeds drie weke langs die N12 reg oorkant huise in Vyfdelaan. Zyna Mduma, voorsitter van die groep wat reeds 11 strukture opgerig het, het by herhaling gesê hulle doen dit om die munisipaliteit te dwing om vir hulle 'n stuk gedienste grond iewers te gee waar hulle kan gaan woon.
Waar inwoners van die gevestigde buurt in Vyfde- en Sesdelaan aanvanklik ontsteld was oor die plakkers, het hulle Dinsdag met die groep vergader en besluit om hulle te steun in hulle stryd met die munisipaliteit.
"Ons het besef hierdie mense het 'n groot probleem, hulle is afhanklik van mense in wie se agtererwe hulle bly en moet gereeld trek en dit gaan geen probleem oplos om hulle eenvoudig net hier weg te jaag nie," het Poem Mooney, 'n bekende inwoner van Sesdelaan, aan die Oudtshoorn Courant gesê.
Volgens Mooney kom die munisipaliteit nie sy verantwoordelikheid na nie. "Dit is duidelik dat die huidige toestand in die munisipaliteit waar raadslede interne twis het en daar nie samewerking tussen sommige raadslede en sommige topamptenare is nie, tot nadeel van belastingbetalers is. Ons is vasbeslote om toenemende druk op hulle uit te oefen om hierdie saak op te los."
Hy sê die inwoners van Vyfde- en Sesdelaan is dit eens dat daar 'n onwilligheid of 'n onvermoë blyk te wees om die probleem van die Backyard Dwellers op te los. "Wat so ontstellend is, is dat hierdie mense nie soos ander bande brand en te kere gaan oor huise nie.
Hulle besef dit neem lank om 'n huis te kry. Al wat hulle vra is 'n stuk grond waar hulle basiese dienste kry en tydelik vir hulle eie huisvesting kan sorg."
Mduma bevestig dit. "Ons is jammer dat ons vir die mense van Vyfde- en Sesdelaan hierdeur raak, maar ons gaan nie permanent hier bly nie. Die munisipaliteit moet ons net hoor en doen wat hulle behoort te doen."
Terwyl die munisipaliteit se behuisingsafdeling en die raad voete sleep het die mense van Hopeville, soos die stukkie grond gedoop is, 'n tydelike hofbevel gekry wat verseker dat hulle nie van die grond afgesit mag word nie. Woensdag moes hulle besittings, wat verlede week deur mense verbonde aan die gholfbaan verwyder is, terugbesorg word.
Zyna Mduma, voorsitter van die Backyard Dwellers of Hope met inwoners van Vyfde- en Sesdelaan Bridgton. Weerskante van haar is, van links: Pietie Mooney, Lionel Tait, Poem Mooney en Joseph Carelse.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'