Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Saak van verberging van 'n swangerskap is geopen nadat die liggaam van 'n babaseuntjie Woensdagmiddag, 10 Julie, by die rioolsuiweringswerke gevind is.
Lt.kol. Malcolm Pojie, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het verder bevestig dat die liggaam aan die forensiese patologie afdeling oorhandig is, nadat plaaslike speurders en forensiese deskundiges die toneel ondersoek het.
Oudtshoorn Courant was in gesprek met 'n forensiese deskundige, wat verkies om anoniem te bly. Volgens hom is dié tipe ondersoek gewoonlik delikaat, moeilik en kan selfs jare duur. Dit hang grootliks af of daar DNS op die toneel gevind is.
Indien geen DNS gevind word nie, bemoeilik dit 'n ondersoek aansienlik. As DNS teenwoordig is, is dit 'n groot pluspunt, maar dan moet daar gesoek word na die ma, wat heelwat speurwerk deur verskeie kanale behels. Sy advies aan vroue wat die opsie oorweeg is om die beskikbare bronne te gebruik vir hulp in plaas daarvan om tot so 'n daad oor te gaan.
'n Nadoodse ondersoek sal hopelik kan bepaal hoe en wanneer die baba gesterf het, of dit 'n miskraam of doodgebore baba was, en of dit moord is of nie.
Strafregtelik of nie?
'n Bepaling van hoe en wanneer die dood plaasgevind het, help dikwels om vas te stel of die dood strafregtelike is.
Oudtshoorn Courant het navorsing gedoen oor die kwessie.
Volgens inligting uit 'n studie deur Shannon Hoctor en Marita Carnelley van die Universiteit van KwaZulu-Natal, Pietermaritzburg is die verberging van 'n swangerskap 'n oortreding van die Wet op die Registrasies van Geboortes en Sterftes 51 van 1992. Volgens dié wetgewing maak dit nie 'n verskil of die kind by geboorte lewend was nie, aangesien die wet voorsiening maak vir strafregtelike aanspreeklikheid vir beide die versuim om lewendige geboortes, asook doodgeboortes te registreer.
Verder word beklemtoon dat die verberging van 'n dooie liggaam van 'n kind die verband of skakel tussen kind en ma breek. Die effek van so 'n skeiding is die uitskakeling van 'n waardevolle bron van inligting rakende die omstandighede waarin die dood plaasgevind het, en wie strafregtelik aanspreeklik gehou moet word.
Sosiale media gebruikers het hul afgryse, woede en ongeloof uitgespreek met die nuus. Daar is 'n voorstel gemaak om 'n 'Baby Saver deposit box'-stelsel in werking te stel in Oudtshoorn.
Volgens beriggewing in vorige uitgawes van Oudtshoorn Courant was daar tussen 2014 en 2022 agt gevalle waar fetusse gevind is. Drie hiervan was in 2022.
Teen saktyd het Oudtshoorn Courant nog nie bevestiging ontvang of enige DNS wel gevind is en of die nadoodse ondersoek reeds gedoen is of nie.
Vorige artikel: Babseun se liggaam by rioolwerke gevind
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’