RUBRIEK - Die meeste van ons is steeds entoesiastiese WhatsApp gebruikers en gebruik dit waarskynlik daagliks. Ons stuur vele boodskappe elke dag, bel vriende en familie en gesels lank.
Die meeste van ons behoort ook aan meer as een WhatsApp-groep en dit is 'n integrale deel van ons alledaagse lewe.
Vroeg in Februarie het ek geskryf oor WhatsApp se nuwe privaatheidsbeleid en dat 'n nuwe stel terme en voorwaardes vir gebruikers ingestel word. Ek gaan nie veel skryf omtrent hierdie nuwe terme en voorwaardes nie, aangesien min verander het sedert my Februarie-artikel.
Hierdie nuwe terme en voorwaardes moes aanvanklik op 8 Februarie in werking tree, maar Facebook, WhatsApp se moedermaatskappy, het hierdie datum uitgestel na 15 Mei. Wel, hierdie datum is op ons, wat nou?
Soos voorheen genoem, die nuwe terme en voorwaardes is redelik kompleks en die meeste van ons sal nie werklik verstaan wat dit behels nie. Ons is dalk meer vertroud met die kort opsomming van die nuwe terme en voorwaardes wat elkeen van ons van tyd tot tyd deur WhatsApp ontvang.
Hierdie opsomming is redelik duidelik en die meeste van ons kan darem 'n idee kry waaroor dit gaan.
Die uiteinde is, indien jy wil voortgaan om van WhatsApp se dienste gebruik te maak sal jy hierdie nuwe terme en voorwaardes een of ander tyd moet aanvaar. Wat gebeur indien jy dit nie aanvaar nie? Presies wat gaan gebeur en wanneer dit gaan gebeur is nie 100% duidelik nie.
Blykbaar gaan WhatsApp nie skielik op 16 Mei jou WhatsApp-rekening sluit nie. Dit blyk nou dat WhatsApp jou gaan bly vra om die nuwe terme en voorwaardes te aanvaar, maar indien jy dit nie aanvaar nie, gaan WhatsApp sekere funksies stelselmatig van jou toepassing verwyder.
Byvoorbeeld, van jou nuwe boodskappe sal nie meer sigbaar wees nie en vervang word met die herinnering aan die terme en voorwaardes. Op 'n latere stadium mag jy die audio- en video-oproep funksionaliteit verloor.
Dus, dit blyk dat WhatsApp jou stadig maar seker gaan dwing om die terme en voorwaardes te aanvaar en die dienste van WhatsApp uiteindelik gaan staak.
Vele van jou private inligting wat WhatsApp nou wil gebruik, is reeds in die kuberruim beskikbaar. Wees net verseker dat, indien jy die nuwe terme en voorwaardes aanvaar, jy in die toekoms meer advertensies op WhatsApp sal kry en ook meer aanlyn-visvang (phishing) boodskappe. Wees voorbereid hoe om hierdie aanlyn-visvang boodskappe te herken en te hanteer.
Ons gaan nooit weer sonder die kuberruimte kan fungeer nie, maar elkeen van ons is verantwoordelik vir die kuberspoor wat ons laat en wat nooit weer uitgevee kan word nie.
Prof. Rossouw von Solms
Prof. Rossouw von Solms is 'n emeritus professor en lid van die Sentrum vir Navorsing in Inligting en Kubersekerheid aan die Nelson Mandela Universiteit.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'