DE RUST NUUS - Die vonnisoplegging van vier mans van De Rust wat aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is, is Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof tot volgende maand uitgestel.
Pieter Williams, Jaco Plaatjies, Niklaas Witbooi en Jason Jantjies het op Maandag 8 Januarie 2018 by 'n plaashuis buite De Rust ingebars kort nadat die eienaar vertrek het om van sy werksmense huis toe te neem.
Hulle het die huis geplunder, geld van sy vrou en haar broer geëis en met fietse, 'n skootrekenaar, selfoon, kontant en juwele op die vlug geslaan.
Feitlik al die items is egter kort daarna deur die polisie teruggevind en die verdagtes in hegtenis geneem.
Streeklanddros JC Nortjé het die saak vir vonnis vir 'n proefbeampte se verslag ten opsigte van Jaco Plaatjies tot 22 Augustus uitgestel.
Witbooi en Jantjies bly in aanhouding terwyl Williams op borgtog is.
Plaatjies is op waarskuwing vrygelaat.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'