Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Petisie wat deur ongeveer 400 inwoners van Rosebank onderteken is, gaan aan die burgemeester oorhandig word.
'n Groot groep inwoners het Dinsdagmiddag hulle petisielyste om beter strate te eis, vir Ronell en Frank Fransen oorhandig.
Die Fransens het aan die Oudtshoorn Courant gesê dit is onaanvaarbaar dat Rosebank, wat reeds 20 jaar gelede aangelê is, steeds grondstrate het terwyl nuwe uitbreidings soos Rose Valley geplaveide strate gekry het.
Volgens hulle word die strate in Rosebank in ontoeganklike modderbaddens omskep as dit reën en andersins is die strate met klippe bestrooi wat motors beskadig.
Volgens Ronell Fransen is hulle volgende stap om 'n afspraak met die burgemeester en raadslede te maak om dan tydens 'n wettige byeenkoms voor die munisipaliteit, die petisie aan die burgemeester te oorhandig.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel: Rosebankers eis beter strate
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'