Update
OUDTSHOORN NUUS - Patrick Rondganger, Eric Xaxaka se vermeende moordenaar, is volgens ‘n mediese verslag wel toerekeningsvatbaar om verhoor te kan word.
So het die Oudtshoorn-streekhof Maandag gehoor.
Rondganger het glo vir Eric Xaxaka (60) in sy huis in Bongolethu, Oudtshoorn, vermoor en in ‘n vlak graf begrawe.
Hy staan tereg op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en dwarsboming van die gereg.
Xaxaka se lyk is op 8 April 2022 in ‘n graf in ‘n aangrensende buitekamer onder twee yskaste gevind nadat hy twee dae tevore, op 6 April 2022, as vermis by die polisie aangemeld is. Rondganger het na bewering saam met lede van die gemeenskap en die polisie na oorledene gesoek en later ‘n bekentenis afgelê.
Hy het met sy borgtogaansoek aangedui dat hy onskuldig sal pleit omdat hy nie die betrokke dag in Oudtshoorn was nie, maar later wel aangedui dat hy skuldig wil pleit.
Sy regsverteenwoordiger, Bradly Samuels, het die hof egter op 6 Februarie vanjaar meegedeel dat nuwe inligting ten opsigte van Rondganger se verlede aan die lig gekom het en hy ‘n aansoek wil bring dat hy vir waarneming na ‘n psigiatriese hospitaal verwys moet word.
‘n Mediese verslag wat Maandag aan die hof verskaf is lui dat hy verhoor kan word.
Sy regsverteenwoordiger, Bradley Michaels, het daarna uitstel vir pleitonderhandelings met die staat gevra en die saak is deur streeklanddros, Sylvia Mandla, tot 13 September uitgestel.
Corné Pretorius verskyn namens die staat en Rondganger bly in aanhouding.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’