CALITZDORP NUUS - 'n Begraafplaas is veronderstel om 'n laaste rusplek te wees vir geliefdes en word daar verwag dat dit in stand gehou sal word, maar 'n vrou van Calitzdorp het die week behoorlik gal gebraak oor die haglike toestand van die plaaslike begraafplaas.
Volgens Madridlene Claassen, 'n inwoner van Calitzdorp, was sy diep geskok oor die toestand waarin haar familie se grafte is.
Claassen sê sy het haar ouma en oupa se grafte in die Bergsig-begraafplaas gaan besoek en besef dat buiten dat die grafte beskadig is, syfer daar riool in hul familie se grafte in.
Volgens haar is die riool afkomstig van die rugbyveld naby die Bergsig-begraafplaas en sukkel sy al 'n geruime tyd met die Kannaland-munisipaliteit.
"Ons is moedeloos en ons kry geen samewerking vanaf Kannaland-munisipaliteit nie. Dit is 'n skande en heeltemal onaanvaarbaar. Daar is glo pompe wat moet reggemaak word, maar dit gebeur nie en intussen loop die rou riool in die grafte in. Die hele gemeenskap kla oor die toestand van die begraafplaas, maar niemand wil iets doen of iemand daaroor aanvat nie," sê sy.
Claassen sê sy het al verskeie amptenare gekontak, maar niemand kom terug nie.
"Hulle het net sand oor gegooi, maar dis 'n tydelike oplossing en doen niks aan die skade wat reeds aangerig is nie."
Departement stel ondersoek in
Oudtshoorn Courant was in kontak met die departement van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelings-beplanning oor die kwessie. Wouter Kriel, woordvoerder van die departement plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning het bevestig dat die departement onmiddellik hieraan gaan aandag gee aangesien dit die eerste keer is wat hul bewus gemaak is van die klagte. "Die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning is tans besig om die kwessie te ondersoek."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’