OUDTSHOORN NUUS - As daar een voorneme van 2020 is waarby beslis gehou gaan word, is dit om Oudtshoorn se reWOLusie te laat groei.
Kleurvolle wolbomme het verlede jaar tydens die KKNK omtrent ontplof en oral in die dorp, by besighede en by die hospitaal het kleurvolle hekel- en breiskeppings aan bome. pale en heinings gepryk.
Die reWOLusie was ‘n inisiatief van Ek is Oudtshoorn en Madelein Miles is aan die stuur daarvan. Absa en die Oudtshoorn besigheidskamer is van die borge vir die projek.
Vanjaar se projek het reeds verlede jaar in Augustus begin toe honderde kleurvolle stroke wolskeppings aan die reling van die voetbrug by die Oudtshoorn Vaardigheidskool vasgemaak is. Hulle sal later vanjaar voor die KKNK, weer daar pryk.
Die nuutste toevoeging tot die reWOLusie is 'n kleurvolle boek waarvan die drukkoste deur Absa betaal word. In die boek word 18 stories vertel van 18 individue en groepe wat verlede jaar aan't hekel en brei gegaan het om die dorp op te helder.
Die fotograaf, Ilse Jordaan, het verlede week 'n reeks foto's van die mense met vlytige vingers by die Cape-Karoo Emporium geneem. Miles vertel dat sy plaaslike skrywers en digters genader het om die 18 stories en gedigte vir die boek te skryf.
"Die boek gaan tydens die KKNK bekendgestel word en sal teen slegs R100 te koop wees. Dit vertel die stories van die mense wat aan hierdie projek deelneem."
Sy sê die idee van 'n boek het posgevat toe sy besef het hoeveel bande word met die reWOLusie-projek gesmee.
"Dit was ongelooflik om te sien hoe mense uit verskillende agtergronde, kulture en taalgroepe saamwerk vir een gemeenskaplike doel en ek het toe gedink dis 'n goeie idee om hulle stories te vertel sodat almal die mense agter die breipenne en hekelnaalde leer ken."
Volgens haar wil hulle graag vanjaar vir die KKNK reeds vanaf die ingang van George af begin om bome in kleur te tooi.
Hekelwerk wat verlede jaar op die voetgangerbrug aangebring is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'