OUDTSHOORN NUUS - Die vroue verbonde aan die KKNK ReWOLusie-span het hierdie jaar met die 30ste KKNK weer beïndruk met hul hekel en breiwerk.
Hierdie jaar het die span behoorlik uit die boks gedink en was verskeie gehekelde items regoor die feesterrein, asook op spesifieke plekke in die dorp uitgestal.
Een van die uitstallings, drie pragtige gehekelde rokke is by Hoërskool Oudtshoorn uitgestal.
Die vroue het geweldig inisiatief geneem, en nie net met wol en breipenne gewerk nie, maar ook met ander mediums en elemente soos tremnet, borduurgare, verfkwaste en knoopwerk. ReWOLusie se tema vir 2026 het perfek ingeskakel by die KKNK se bemarkingstema wat van kruisstreek gebruik gemaak het.
Oudtshoorn ReWOLusie word beskryf as ’n ReWOLusie wat deur hekelwerk ’n gemeenskap aanmekaarbind.
’n Gemeenskapsprojek wat sedert die KKNK in 2019 in verskeie vorme ’n reuse-impak op gemeenskappe regoor die Suid-Kaap maak.
Met meer as 80 deelnemers, verfraai hulle vlytige vingers nie net jaarliks dele van die KKNK nie, hulle maak ook ’n ruim en warm verskil in die harte van talle behoeftiges in die gemeenskap.
Oudtshoorn ReWOLusie is tydens die 10de kykNET Fiëstas in 2020 met die Blou Fiësta vir uitsonderlike bydrae en innovasie bekroon. Brei saam, of jy nou ’n ywerige en gesoute hekelaar is, of graag wil leer en saamkuier, moenie wag nie.
Word vandag nog deel van die Oudtshoorn ReWOLusie.
Maak ’n skenking of donasie. Enigiemand kan by Oudtshoorn ReWOLusie betrokke raak, selfs al kan jy nie brei nie.
Enige skenkings, maak nie saak hoe gering nie, dra by tot die voortbestaan van dié gemeenskapsprojek. Skenkings van wol, stopsels, of fondse om wol en penne mee aan te koop, tot jou eie stukkies brei- en hekelwerk, elkeen kan ’n bydrae maak tot dié vreugde.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’