OUDTSHOORN NUUS - Die bekende Kaapse kunstenaar Kilmany-Jo Liversage se kunswerk op die hoek van Voortrekkerweg en Baron van Reedestraat in Oudtshoorn, is ook deel van vanjaar se visuele kunste by die KKNK.
Dié indrukwekkende kunswerk, wat op twee skeepsvraghouers, gedoen is, is oor vier dae voltooi.
Liversage se kunswerk, Rond en Bont: Skeepvragshouer, is een van vier plekspesifieke werke in die reeks, saam met Rond en Bont: Die Brug, Rond en Bont: Die Polisiekantoor en Rond en Bont: Toor Bos. Hierdie kunswerk dien as 'n ontmoetingspunt wat hierdie besige kruising in die dorp visueel aksentueer.
"Ek het nie gedink dit gaan so groot wees nie. Die hoogte was nogal 'n uitdaging, maar dit was 'n lekker projek om aan te pak."
Volgens haar skilder sy graag sterk vrouefigure met 'n unieke styl wat graffiti-kuns en helder kleure insluit.
Liversage is wêreldbekend en het reeds muurskilderye in lande soos Australië, Colombia, die VSA, die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika geskep. Haar kenmerkende styl bring 'n vars, kontemporêre energie na Oudtshoorn en dra by tot die groeiende kunslandskap van die Karoo.
Bloom & Bliss: Karoo Edition
Benewens die grootskaalse kunswerk aan die buitekant van die houers, kry feesgangers ook die kans om in hierdie ruimte beperkte oplaag digitale drukwerke van verskeie bekende Suid-Afrikaanse graffiti-kunstenaars teen 'n bekostigbare prys te koop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’