OUDTSHOORN NUUS - Die direkteur van korporatiewe dienste van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Reginald Smit, is Dinsdag 29 April tydens 'n raadsvergadering geskors. Die besluit is eenparig tydens 'n in-komitee-sitting deur die raad geneem.
Volgens Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, is Earl Jantjies aangewys om tydelik in die posisie waar te neem.
"Verskeie klagtes teen Smit word tans ondersoek, en dit sluit nie die moontlikheid van kriminele klagtes uit nie," het Allers bevestig.
Betroubare bronne dui aan dat die klagtes onder andere moontlike finansiële wanadministrasie insluit. Daar is egter nog geen finale besluit geneem oor of formele kriminele klagtes teen hom aanhangig gemaak gaan word nie. Die presiese aantal klagtes teen Smit is ook op hierdie stadium onduidelik.
Smit het bevestig dat hy Dinsdagmiddag amptelik in kennis gestel is van sy skorsing.
"Ek verkies om op hierdie stadium geen kommentaar te lewer nie. Die proses moet sy loop neem," het hy gesê.
Navrae is aan die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, asook aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gerig. Teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie, maar enige verdere besonderhede sal aanlyn bygewerk word sodra dit beskikbaar is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’