Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Terwyl die Karoo-streek se inwoners juig oor die reën wat sedert Maandag geval het, het dit skaars 'n invloed op die huidige droogte. Die welkome rëenbui maak ook nie 'n wesenlike verskil aan boere se benarde situasie nie.
Volgens die weerdiens se kantoor in George, het dit sedert 22 tot 24 April 6,4 mm in Oudtshoorn, 12,2 mm in Ladismith, 14,6 mm in Beaufort-Wes en 3,4 mm in De Rust gereën.
Laubser Coetzee, 'n boer van Volmoed en die Klein-Karoo se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap, sê die boere in die omgewing is afhanklik van die vloedbesproeiingskema en voor die riviere nie sterk loop nie, het die boere steeds nie water nie.
"Die reën wat geval het help wel in die veld, maar die boere het besproeiingswater nodig vir die lande. Ons is baie dankbaar vir die reën wat geval het, maar water in die opvangsgebiede is die belangrikste."
Riaan Krüger van die Stompdrift-Kammanassie-landelike watervereniging sê daar is geen invloei by die Stompdrift- en Kammanassiedam nie.
"Dit het sedert Maandag tussen 5 en 7mm in dié gebied gereën. Die damme is feitlik leeg. Dit beteken dat daar geen besproeiing uit die damme kan plaasvind nie," het hy gesê.
Die JF Le Grange-dam in Ladismith wat tans 15% vol is. Foto verskaf
Kyk 'n video hieronder:
Deon Gous, voorsitter van die Sentraal-Karoo-landbouvereniging, sê inwoners van Beaufort-Wes juig oor die water wat by hulle geval het.
"Die tydsberekening is egter bietjie af vir die boere. Alhoewel die riviere sterk loop is die boere afhanklik van weiding vir die diere. Die gras groei nie as dit so koud is nie. Die velde lyk groener, maar bossieveld is nie kos vir die vee nie. Dit beteken boere moet steeds die vee voer. Die reën help egter geweldig met die dorheid van die grond en kan moontlik in die toekoms iets beteken."
Nico Jonker, direkteur tegniese dienste van die Kannaland-munisipaliteit, sê hulle is tevrede met die hoeveelheid reën wat by hulle geval het.
Die Stompdriftdam se water word vir besproeïng gebruik.
"Die Swartbergrivier loop mooi en dit beteken daar is steeds 'n goeie inloop na ons damme. Die Goewerments- en Le Grange-damme wat leeg was is stadig maar seker besig om weer vol te loop. Weens 'n lek in die Le Grange-dam kan die dam se vlak net tot 60% gaan, maar die invloei in die damme verlig die druk op die 12 boorgate wat die dorp van water voorsien. Die Tierkloofdam wat water aan Zoar verskaf is ook vol."
Jonker sê ten spyte hiervan is waterbeperkings in Kannaland van 50 liter per persoon per dag, steeds van krag.
Huidige damvlakke:
- Raubenheimerdam: 37,37%
- Melvilledam: 100%
- Kammanassiedam: 3,5%
- Stompdriftdam: 9,1%
- Nelsdam: 8,9%
- Tierkloofdam: 100%
- JF le Grange-dam: 15%
- Goewermentsdam: 10%
Die Goewernmentsdam en JF le Grangedam wat saam met 12 boorgate water aan Ladismith verskaf.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'