OUDTSHOORN NUUS - Die 12-jarige Rebecca Greeff van Oudtshoorn se droom om ander te help en 'n verskil te maak, het verseker dat leerders van Rooiheuwel Primêr buite Oudtshoorn verlede week in splinternuwe sportklere aan die Sone-atletiekbyeenkoms kon deelneem.
Die skool is op die Rooiheuwel-pad naby die plaas waar die Greeff-gesin boer.
Elzette Greeff, Rebecca se ma, vertel haar dogter het vroeër vanjaar, deur 'n video wat sy gemaak het, mense gevra om haar te ondersteun deur te help met skenkings vir nuwe sporthempies, nuwe netbal- en rugbyballe en kospakkies vir sportdae vir die leerders.
Rebecca sê sy het die idee gekry toe sy 'n gesprek tussen haar ma en 'n onderwyser gehoor het.
"Ek het agtergekom hoe bevoorreg ek is om in 'n skool te wees wat elke jaar nuwe, geborgde skooltoerusting en klere kry. Hulle moet in gewone hempies speel. Mens voel trots en waardig as almal eenvormige hempies aan het en ek wou hê hulle moet dit ook voel."
Rebecca Greeff saam met een van die leerders.
Die gemeenskap het mooi gehelp en sy kon voor die atletiekbyeenkoms die hempies aan die leerders oorhandig. Rebecca het ook genoeg geld ingesamel om vir die kinders balle te koop en koeldrank vir die byeenkoms te kon gee.
Rebecca sê sy het juis Rooiheuwel Primêr gekies omdat sy glo dat die Here die skool op haar hart gelê het, en sy glo dat enigiemand wat so iets wil aanpak dit kan doen.
"As jy dit wil doen, praat met jou ouers en bid daaroor, want elke droom kan 'n realiteit word. Toe ek begin het, het ek gevra vir sporthempies, balle en kospakkies en ek het soveel meer gekry as waarvoor ek gevra het."
Vir Rebecca was hierdie skenking maar net die begin.
Sy het besluit om verder te gaan en het nog behoeftes by die skool geïdentifiseer waarmee sy graag wil help.
"Ek wil probeer om reg deur die jaar te help. Ek is reeds besig om iemand te kry wat deur die week by hulle lofprysing en aanbidding (praise and worship) kan aanbied. Ek en my ma wil ook graag help om die biblioteek aan die gang te kry."
Elzette sê hulle het ook gesien dat die speelterrein aandag nodig het, en beoog hulle ook om daar te help en dit weer speelbaar en veilig te maak vir die kinders.
"Ek en Rebecca wil net aan die Oudtshoorn-munisipaliteit dankie sê vir die skenk van die lekkergoedpakkies, Theo en Denielle Landman vir die skenk van die vrugte, Ansie en Alister van Rensburg vir die toebroodjie en water en Carien en Montu Brits vir die skenk van die hempies en die koerierkostes wat hulle betaal het. Ons het soveel hulp van soveel mense gekry, party wil nie genoem wees nie, maar ons wil elkeen van julle regtig bedank vir julle ondersteuning."
• Enigiemand wat Rebecca wil help kan Elzette by 083 635 3170 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’