OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die Raubenheimerdam het ’n vryboord van 6.1 m. In gewone terme beteken dit daar is nog 6.1 meter hoogte beskikbaar tussen die normale volvlak van die dam en die boonste kruin van die damwal.
Hierdie ekstra hoogte is juis ingebou as veiligheidsmarge om groot vloede en swaar reën veilig te kan hanteer.
Die dam werk met twee uitlate:
- Die eerste uitlaat is die sogenaamde “morning glory”-toring waar water invloei en dan deur die tonnel uitgelaat word.
- Indien die water hier meer as ongeveer een meter diep begin oorloop, tree die tweede nooduitlaat outomaties in werking. Hierdie is ’n baie groot, meer as 30 meter breë vryuitlaat wat ontwerp is om baie groot hoeveelhede vloedwater veilig weg te voer.
Met die onlangse swaar reën het die water op ’n stadium ongeveer 400 mm diep oor die eerste uitlaat gevloei. Op daardie stadium was die dam ongeveer 103,3% vol.
Dit beteken daar was steeds ongeveer 5.6 m vryboord oor voordat die water ooit naby die kruin van die damwal sou kom.
Die dam se uitlate is spesifiek so ontwerp dat die water veilig deur die uitlaatwerke afgevoer word en dat water nie veronderstel is om ooit oor die kruin van die damwal te vloei nie.
Volgens die grootte en veiligheidskategorie van die dam is die munisipaliteit ook wetlik verplig om elke vyf jaar ’n formele damveiligheidsinspeksie deur ’n geregistreerde damingenieur te laat uitvoer.
Tydens hierdie inspeksies word verskeie aspekte van die dam deeglik geëvalueer, insluitend die strukturele veiligheid van die damwal, die toestand van die uitlaatwerke, asook die vermoë van die oorloopstelsel om groot vloede veilig te hanteer.
Ons damveiligheids is almal op datum en bevestig dat die dam veilig funksioneer binne sy ontwerpvermoë.
In eenvoudige terme beteken dit die Raubenheimerdam was gedurende die afgelope reënval heeltemal veilig en het steeds ’n baie groot veiligheidsmarge gehad.
Die dam is ontwerp om baie groter vloede en aansienlik meer reën te kan hanteer as wat ons die afgelope tyd ervaar het.
Die munisipaliteit het die damtoestande ook deurentyd tydens die reënval gemonitor.
Op sekere stadiums was die toegangspaaie na die dam oorstroom en moes rampbestuur ingenieurs help om veilig by die dam uit te kom sodat inspeksies en monitering voortgesit kon word.
Hierdie monitering het bevestig dat die dam en uitlaatwerke normaal en veilig gefunksioneer het gedurende die vloeitoestande.
Foto's: Verskaf
VERSKAFDE VIDEO:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’