OUDTSHOORN NUUS - Cango Wildlife Ranch het verlede week, ter ere van Mandeladag, besluit om 'n positiewe impak te maak en saam met plaaslike gemeenskapslede en organisasies die sloot langs Rosevalley op die De Rust-pad skoon te maak.
Ongeveer 50 mense, wat die Wild Animal Volunteers, Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor, La Pension Gastehuis en die toerismeveiligheidsbeampte van die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme (Wes-Kaapse regering) insluit, het by hulle aangesluit.
Volgens Tammy Moult, assistent direkteur: toerisme, het hulle hordes vullissakke, wat deur Vredebest Oudtshoorn geborg was, met vullis uit die sloot gevul.
Inwoners van Rosevalley het ook met die projek gehelp.
Hulle het ook ao. Pieter du Plessis en ao. Jan Combrinck vir hul teenwoordigheid bedank, sowel as amptenare van die Oudtshoorn-munisipaliteit.
Moult sê hulle kon daarin slaag om 250 m van die sloot skoon te maak en het bykans 400 swart sakke vol gemaak.
Sy het inwoners herinner om afval behoorlik in aangewese gebiede weg te gooi, te herwin waar moontlik, en te poog om elke area skoner te laat as wat jy dit gekry het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’