OUDTSHOORN NUUS - As jy vir 40 jaar in die polisie was, ken jy beslis die verskil tussen reg en verkeerd.
Tussen goed en kwaad. Wie's die cowboys en wie is die crooks.
Oor sy polisieloopbaan, waar hy ná 40 jaar as polisiegeneraal afgetree het, kan Okkie Terblanche boekdele skryf.
Maar dis die volgende fase in sy beroepslewe wat Okkie weer van vooraf opgewonde het.
Die politieke landskap in die Suid-Kaap, oftewel die Oostreek, waar hy sedert 2015 vir die Demokratiese Alliansie (DA) in die loopgrawe in George, Mosselbaai, Swellendam en in Prins Albert diens gedoen het.
En nou is Oudtshoorn in sy visier.
Terblanche is pas as die DA se nuwe kiesafdelingshoof in Oudtshoorn aan-gestel.
Hy is ook 'n DA-parlementslid en die party se adjunkskaduminister belas met polisie-aangeleenthede.
As dienende parlementslid beplan hy om 'n oorsigrol te speel en by verskeie plaaslike gemeenskapsorganisasies, soos die plaaslike sakekamer, betrokke te raak.
Sy deurwinterde ervaring as gesoute polisieman, veral op senior vlak, kan hom op plaaslike regeringsvlak goed te staan kom.
Terblanche sê hy het geen agendas nie en hy poog altyd om die regte ding te doen in belang van die dorp se inwoners.
"Ek glo daaraan om dinge gedoen te kry. Ek glo onwrikbaar in die krag van uitvoering, want praatjies vul geen gaatjies nie."
Terblanche is gebore en getoë in Groot-Brakrivier en hy het in 1970 by HTS in Oudtshoorn gematrikuleer.
Lees meer : DA stel nuwe verkiesingshoof in Oudtshoorn aan
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'