OUDTSHOORN NUUS - Die media was vanoggend na 'n spesiale raadsvergadering by die Oudtshoorn-munisipaliteit genooi, maar minute voor die vergadering begin het is 'n boodskap gestuur dat die vergadering in komitee sou plaasvind.
Nie die speaker, Julia le Roux of die munisipale bestuurder, Allen Paulse, was by die vergadering teenwoordig nie.
Gevolglik het Thomas Matthee, direkteur van gemeenskapsdienste, as waarnemende munisipale bestuurder in gestaan. Raadslede wat by die vergadering was moes 'n waarnemende speaker vir die vergadering kies en raadslid Pat Wagenaar het daarna die posisie as waarnemende speaker ingeneem.
Wagenaar het lede van die publiek en die media ingelig dat die vergadering in komitee sou plaasvind omdat die vergadering oor 'n personeellid van die munisipaliteit handel. Die media en lede van die publiek moes die vergadering verlaat.
Die vergadering sou, na wat verneem word, oor die skorsing van die huidige munisipale bestuurder, Allen Paulse, gaan. Die Oudtshoorn Courant het vroeër die maand berig dat daar tydens die raadsvergadering einde Meimaand raadslede was wat 'n besluit geneem het om Paulse te verwittig dat hy tydelik geskors gaan word. Die besluit is geneem terwyl 'n gedeelte van die raadsvergadering ook in kommitee was.
Paulse het op daardie stadium sewe dae gehad om redes te verskaf waarom hy nie geskors moet word nie. Die munisipaliteit het sedert die vergadering einde Mei nog geen verdere inligting rakende die moontlike skorsing van Paulse verskaf nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'