OUDTSHOORN NUUS - Lede van die Tuinroete-blitspatrollie het op 13 Mei 300 Mandrax-tablette, met 'n geraamde straatwaarde van R15 000, op die N9 gevind.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het die span inligting ontvang en 'n Toyota Quantum-minibustaxi langs die N9 gestop.
Die voertuig was van George na Oudtshoorn onderweg. Die voertuig is deursoek en die dwelms is in besit van 'n passasier gevind.
Die polisie het op die dwelms beslag gelê en die 47-jarige vir handel in dwelms in hegtenis geneem.
Die arrestasie is te danke aan die hoëdigtheid-patrollies in misdaadgeteisterde gebiede wat uitstekende resultate opgelewer het. Die operasie is oor die hele Suid-Kaap uitgevoer en 277 verdagtes is vir verskeie misdrywe in hegtenis geneem.
Die provinsiale kommissaris van die Wes-Kaap, luitenant-generaal Thembisile Patekile, het die pogings van die polisie om gemeenskappe te beveilig geloof.
Die Mandrax-tablette wat gekonfiskeer is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’