PRINS ALBERT NUUS - Die program van die Prins Albert-leesfees wat vanaf 30 Augustus tot 1 September in The Showroom-teater aangebied word, beloof om iets vir elke smaak te bied. Bekende skrywers, digters en musikante soos PP Fourie, Jeanette Ferreira, Stefaans Coetzee, Chris Vorster, Riku Latti, Petronel Baard, Clinton V du Plessis, Sally Andrew en Sidney Gilroy is maar enkele van die deelnemers.
Hans steek die Rubicon oor
Vir vermaak buiten die skrywers-gesprekke, word die film van Rudi van Rensburg se trefferboek, Hans steek die Rubicon oor, op 30 Augustus vertoon. Vir Saterdagaand-vermaak span die digter en skrywer, Hannes Visser, en die talentvolle musikant, Petronel Baard, kragte saam vir die uur lange vertoning, Asemhaal.
Tydens die vertoning sing Petronel van haar eie musiek, asook 'n paar bekende liedjies en die toonsetting van twee van Hannes se gedigte. Hy lees van die gedigte voor en vertel die gedigte se stories.
Die hele program, buiten twee items, word in die pragtige Showroom-teater aangebied. Saterdagoggend, 31 Augustus, kan besoekers vroeg uit die vere klim en na die Kritikomkoppie langs die dorp gaan vir gedigte met sonsopkoms, 'n gratis aanbieding deur digters van die dorp en elders.
Fees sluit af met cuisine
Die fees sluit Sondag 1 September op 'n hoogtepunt af met die bekendstelling van die bekende skrywer, Sally Andrew, se kookboek, Recipes to die live for by Local Roots in die hoofstraat. Die gesprek met Sally gaan gepaard met 'n ete uit die kookboek.
Daar is 'n beperkte aantal sitplekke beskikbaar en vooraf bespreking is noodsaaklik.
Die volledige program van die leesfees is op Prince Albert Leesfees se Facebook-blad beskikbaar en kaartjies kan deur Quicket bespreek word.
Vir navrae kontak Reinie of Hannes by reiniesmit@gmail.com en visserh2@gmail.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’