OUDTHOORN NUUS - Lede van die Oudtshoorn MOTH Halfaya Pass Shellhole in Oudtshoorn het Vrydagaand, 30 Mei, 'n groep van 16 weermagveterane, Charlie Kompanie '82 Infanterieskool-groep verwelkom.
Hulle het in Oudtshoorn aangedoen as deel van 'n fondsinsamelingsveldtog, Projek Rooivalk, vir weermagveterane wat finansieel swaarkry.
Hulle was almal destyds in dieselfde peloton by die Infanterieskool in Oudtshoorn.
Die groep onder leiding van Adriaan van der Westhuizen, het 1 400 km vanaf Johannesburg na Oudtshoorn fietsgery, terwyl 'n kleiner groep onder leiding van Nantie Fourie 'n 115 km-vasbytstap vanaf Calitzdorp al langs die Swartberge na Oudtshoorn gedoen waar die twee groepe mekaar ontmoet het.
In gesprek met Nantie Fourie verduidelik hy dat hulle die projek in samewerking met die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging aangepak het.
"Die Trap-span, ons het hulle die 'Meg GP' genoem omdat hulle mobiel op fietse was en die ander span, die 'MOT-groep' wat te voet deelgeneem het. Ons het oor vyf dae sowat 115 km gestap, gemiddeld net so oor die 20 km per dag."
Tydens Vrydagaand se verrigtinge is hulle hartlik verwelkom en is heelwat weermagstories uitgeruil.
Die groep is ook op 'n begeleide toer geneem deur die Halfaya Pass Shellhole se unieke museum met 'n uitgebreide versameling van weermagitems - hier is 'n wyle vertoef terwyl die uitstalling meer herinneringe opgeroep het. Spesiale sertifikate van waardering is aan die oudsoldate oorhandig waarna daar gesellig gekuier is.
Meer oor die SAWV Projek Rooivalk
Die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) is 'n militêre veterane-organisasie wat gestig is vir militêreveterane en wat omsien na die belange van sy lede.
Die SAWV is 'n nie-winsgewende organisasie en word bestuur deur die Nasionale Uitvoerende Raad en geaffilieer by die Raad vir Militêre Veterane Organisasies Suid-Afrika.
SAWV fokus op ondersteuning, erkenning, herdenking en gemeenskappe.
Projek Rooivalk is gedoen in die vorm van Trap-en-Stap-vasbyt. Fietsry vanaf Sandton na Oudtshoorn oor 14 dae en die vasbytstap van Calitzdorp na Oudtshoorn oor vyf dae. Alle fondse ingesamel gaan direk aan SAWV.
Fotogalery: Projek Rooivalk eindig in Oudtshoorn
Fotogalery: Halfaya Pass Shellhole ontvang veterane
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’