OUDTSHOORN NUUS -André Hattingh van Pediatric Care Africa, en 'n aantal vrywilligers het verlede Woensdag 12 Augustus die terrein van APD (Vereniging van persone met gestremdhede) in Oudtshoorn besoek.
Die rede vir die besoek was om te bepaal op watter manier die sentrum gehelp kan word om die perseel te verfraai en te verbeter.
Die sentrum maak voorsiening vir daag-likse programme vir kinders sowel as volwassenes met gestremdhede.
Die volwassenes se programme word in 'n groot vertrek aangebied wat in die somermaande uiters warm is en in die winter yskoud word. Volgens Hattingh moet die dak dringend met spesiale verf, wat hitte reflekteer, geverf word en insulasie moet ook onder die sinkdak aangebring word. Dit is maar een van bykans 40 behoeftes wat by die sentrum geïdentifiseer is.
Daar word onder andere beoog om die vertrek van die volwassenes kleurvol te maak, 'n televisiestel aan te bring en kantoortoerusting aan te koop om slegs enkele doelwitte te noem.
Die kinders word in vier klaskamers gehuisves waar hulle volgens ouderdomme aan programme deelneem en daagliks etes ontvang.
Verskeie behoeftes is ook in die klaskamers en die kombuis geïdentifiseer. Van die dringende behoeftes is 'n yskas, vrieskas, mikrogolfoond en 'n stoof.
Tydens die besoek het polisielede van Sektor 5, waarbinne APD se gebou val, ook aangesluit en onderneem om met werk aan die gebou te help.
Hattingh het gesê hulle vra nie net geld of skenkings nie, maar ook handearbeid. "Ons moet onthou dat van hierdie kinders en vol-wassenes glad nie kan beweeg nie, daarom is dit belangrik dat die klein stukkie wêreld waaraan hulle blootgestel word, vir hulle interessant en kleurvol moet wees.
Hier is soveel behoeftes wat mense sonder gestremdhede as vanselfsprekend aanvaar, maar die persoon met gestremdhede se lewe radikaal kan verander," het hy gesê terwyl die groep deur die perseel beweeg het.
Mense wat graag by die APD-projek betrokke wil raak, kan André Hattingh by 072 997 8041 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’