PRINS ALBERT NUUS - Die Prins Albert-leesfees wat ses jaar gelede gereël is as deel van die dorp se 250ste bestaansjaar het gekom om te bly.
Volgens Linda Jaquet, voorsitter van die Leesfeeskomitee was die bywoningsyfer vanjaar hoër as verlede jaar met besoekers vanaf Kaapstad en van so vêr as die Vrystaat.
Volgens haar het die fees die verwagtinge van die vrywilligers wat die oorspronklike fees in 2012 gereël het, oortref.
Behalwe dat die eerste fees as deel van die dorp se verjaarsdagvieringe aangebied was, was dit ook 'n viering van boeke omdat die dorp se biblioteek 150 jaar oud was en die Prins Albert Primêre skool het hulle eerste biblioteek ingewy.
Sedertdien werk 'n kerngroep vrywilligers jaarliks onverpoos om die gewilde fees aan te bied.
'n Weerligstraal wat 'n transformator Donderdagaand getref het, het vrese laat ontstaan dat die grootskaalse kragonderbreking die fees sou beduiwel.
Volgens Jaquet het hulle egter 'n goeie plan van aksie gehad vir enige kragonderbreking en die fees het feitlik sonder enige verskil voortgegaan totdat die kragtoevoer Saterdagaand herstel is.
Gaireyah Fredericks. Johan Myburg, Hugh Forsyth en Daniel Hugo lees gedigte voor.
Die besluit om films en musiek deel van die fees te maak het ook vrugte afgewerp. Die afgelope drie jaar is bekroonde films by die fees vertoon.
Vanjaar is die gewilde Krotoa vertoon en volgens Jaquet was dit, naas die gesprek met adv. Glynnis Breytenbach, die gewildste item op die program.
Die regisseur van Krotoa, Roberta Durrant, het ook die vertoning bygewoon.
Vir die gesprek van Glynnis Breytenbach was kaartjies uitverkoop en die sydeure van die Jans Rautenbach Schouwburg moes oopstaan sodat mense op die stoep kon sit en luister.
Alhoewel die Jans Rautenbach Schouwburg beperkte sitplekke het, is dit die ideale plek om die fees aan te bied, sê Jaquet.
Sy beskryf die fees as 'n boetiekfees met 'n besonderse intieme atmosfeer waar mense nie van een aanbieding na 'n volgende een op 'n ander plek moet jaag nie.
Met vanjaar se fees het al die gesprekke en optredes by die Schouwburg plaasgevind waar 'n opwip restaurant en 'n boekwinkel ingerig was.
Die enigste aanbiedings wat elders plaasgevind het was die komediant, Nick Rabinowitz, se optrede en die musiekuitvoering, Afrique mon désir, wat by die Showroom Theatre plaasgevind het.
Rabinowitz se vertoning was uitverkoop en hy het die wins van sy vertoning aan die Prins Albert Gemeenskapstrust geskenk.
Die Leesfees is Vrydagaand deur die minister van sport- en kultuursake, Anroux Marais geopen met dr. Theuns Eloff as gasspreker.
Wat volgende jaar se fees aanbetref het Jaquet gesê die komitee skep nou eers asem voordat hulle met die beplanning vir 2018 begin.
"Ons het bemoedigende terugvoer van gesoute feesgangers gekry en die verskeidenheid op die program het groot byval gevind, waarop voortgebou kan word."
ARTIKEL & PHOTOS: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'