CALITZDORP NUUS - AnnMaree Barry, 'n sersant verbonde aan die Calitzdorp-polisiestasie, het onlangs haar eerste boek, Niemand, tydens 'n spoggeleentheidby De Krans bekend gestel.
Volgens Barry, is skryf 'n passie waaraan sy al van kindsbeen af werk.
Niemand is nie 'n boek wat oor geweldsmisdade en die oplos van sake gaan soos daar verwag sal word van 'n polisiebeampte nie.
Dit is 'n hygroman waarin sy kwessies soos gesinsgeweld, waarmee sy gereeld in haar beroep gekonfronteer word, aanraak.
"Ek geniet dit geweldig baie om te skryf. Ek weet mense verwag nie sommer 'n hygroman uit die pen van 'n polisiebeampte nie, maar vroue dink mos anders.
En alhoewel die hoofkarakter 'n sersant in die polisie is, is die boek regtig waar nie op my gebaseer nie," vertel sy.
Barry sê die boek is aanvanklik deur twee uitgewers goedgekeur, maar sy het besluit om die uitgewing plaaslik te hou en van Malherbe-uitgewers gebruik te maak.
"Hulle het ook intussen my tweede boek aanvaar. Ek wil nie nou al die aap uit die mou laat nie, maar die boek is effe meer eroties as Niemand.
As ek dit wat ek reeds geskryf het weer deurlees dan dink ek by myself, sjoe, waar kom al die goed vandaan."
Barry sê sy die realiteit oor haar boek wat uiteindelik uitgegee is, het nog nie by haar ingesink nie.
"Dit voel nog nie regtig vir my na iets nie. Ek dink dit moet nog by my insink."
Sy voel ook dat sonder haar getroue vriende en familie, sowel as die uitgewers sou haar droom nooit 'n realiteit geword het nie.
"Ek wil regtig uit my hart uit die hele gemeenskap bedank wat my so ondersteun het. En veral ook vir Rodney Gelant wat gehelp het om die aand so spesiaal en mooi te maak."
Niemand is by Malherbe-uitgewers sowel as by Barry teen R159 beskikbaar. Die boek is ook as e-boek teen R69 beskikbaar.
Skakel haar by 061 132 9644 vir bestellings.
Lees 'n vorige artikel: Polisie-Sersant stel boek bekend
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'