OUDTSHOORN NUUS - Die Polisiehoogte-nasorgsentrum in Oudtshoorn wat sy deure twee maande gelede oopgemaak het, het pas sy eerste modelaand in die sentrum gehou en Saterdag die kinders ook vir 'n genotvolle uitstappie na die Safari Volstruisplaas geneem.
Volgens Phillip Seroux, wat die nasorgsentrum saam met sy vrou, Susanna, bedryf was die aand en kroning van Mnr. en Mej. Nasorgsentrum, so geslaagd dat dit voortaan jaarliks gehou gaan word.
"Dit is net nog 'n geleentheid om die kinders weg van misdaad en van die strate te hou," sê Seroux.
Hy het sy dank uitgespreek teenoor die plaaslike polisiebevelvoerder, brig. Susanna Crafford, wat Mnr. en Mej. Nasorgsentrum geborg het, en ook al die ander borge wat gehelp het om van die geleentheid 'n sukses te maak.
Hy het ook die kinders se ouers en die gemeenskap van Polisiehoogte bedank vir die wonderlike ondersteuning en dan natuurlik die bestuurslede, Winston May (voorsitter), Susanna Seroux, Angelo Seroux, Corné Coetzee en die DJ van die aand, Leon Solomons.
Seroux het 'n beroep op die ouers van Polisiehoogte gedoen om gedurende die skoolvakansie hul kinders onder oë te hou en toe te sien dat hulle die Covid-19-regulasies gehoorsaam.
Voor, van links is Rodesia Ramond (1ste prinses), Jyda Jullies (2de prinses), Sade Loff (Mej. Persoonlikheid), Byron Claassen (Mnr. Nasorgsentrum) en Timicia Coerecius (Mej. Nasorgsentrum). Middel: Winston May (1ste prins), Vernando Mooi (Mnr. Persoonlikheid) en Naswill Alkaster (2de prins). Agter: Susanne Seroux, Phillip Seroux (sentrumbestuurder) Winston May (voorsitter) en Charlotte May (sekretaresse).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'