OUDTSHOORN NUUS - Sersant Chris Spies, Suid-Kaap polisiewoordvoerder, het bevestig dat ‘n polisieman verbonde aan die De Rust-polisiestasie op oujaarsaand, 31 Desember, een van twee mense is wat geskiet is in ‘n voorval in Hanistraat, Bongolethu op Oudtshoorn.
Oudtshoorn-polisiebeamptes was omstreeks 18:00 op die toneel in Hanistraat waar die tragiese insident gemeenskapslede na die straat in groot getalle gelok het, met vermeende familielede wat duidelik hoogs ontsteld was.
Die rede vir die voorval was op daardie oomblik onbekend, en daar was 'n groot teenwoordigheid van polisie en nooddienste op die toneel.
Volgens Spies is polisiebeamptes die aand na die straat ontplooi as gevolg van ‘n skietvoorval. Hy sê dat beskikbare inligting daarop dui dat, toe die beamptes op die toneel aankom, hulle die liggaam van ‘n polisieman, wat van diens af was, gevind het.
“Die 43-jarige adjudant-offisier is met ‘n skietwond aangetref. Hy is op die toneel dood verklaar deur paramedici. Die oorledene se vrou het ook beserings opgedoen en is na ‘n mediese fasiliteit geneem. Die omvang van haar beserings moet nog bepaal word,” sê Spies.
Volgens Spies word die omstandighede rondom die insident ondersoek. “Die saak sal verder ondersoek word deur die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD),” voeg hy by.
Intussen, sê Spies, dat die SAPS se binneshuise Werknemergesondheid en -welstand praktisyns – insluitend kapelane, sielkundiges en maatskaplike werkers – aangesê is om psigososiale ondersteuning aan die familie en kollegas van die oorlede beampte te verskaf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’