LADISMITH NUUS - Die Ladismith-polisie vra hulp van die gemeenskap na 'n liggaam van 'n pasgebore baba by die suiweringswerke van die Kannaland-munisipaliteit op Ladismith gevind is.
Volgens ao. Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith-polisie, het een van die munisipale werkers na bewering Maandag 29 Julie die liggaam ontdek.
"Die uitslag van die nadoodse ondersoek is nog nie bekend nie. Die geslag van die baba is vroulik," het hy gesê.
Die voorsitter van die Ladismith-gemeenskapspolisiëringsforum, Dawid Bothman, het die gemeenskap gevra om die polisie te help met die ondersoek.
Alle inligting sal as vertroulik hanteer word. Die ondersoekbeampte, sers. Damion Manuel, kan by 028 551 8146 of 028 551 8140 of 082 379 4111 geskakel word.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'