VAN WYKSDORP NUUS - Lede van die Ladismith-polisie het verlede week Vrouedag in Van Wyksdorp gevier.
Die voorsitter van die polisieforum, Dawid Bothman, het veral met jong vroue en kinders gepraat. Hy het hulle aangemoedig om gehoorsaam aan hul ouers te wees en hul drome na te streef.
"Dit is belangrik om jou drome lewendig te hou, bemagtig jouself, luister na raad en leiding van ouer persone," het Bothman gesê.
Sers. Sanet Salmon het op haar beurt gemaan teen verkeerde besluite.
"Gesinsgeweld is hoog in ons gemeenskappe. Dwelms en alkohol is die ou vyand wat gesinne en families verwoes. Verliefdheid tref enige jongmens, maar waak teen tienerswangerskappe.
"Ek gaan nie vandag voorbehoedmiddels goedpraat of slegpraat nie, my boodskap vandag aan julle is: weerhou jouself van tienerseks. Julle moet die nuwe leiers word wat opstaan teen geweld teen vroue en kinders."
Dawid Bothman het die jeug daarop gewys dat selfmoord nie 'n oplossing vir probleme is nie. Hy het ook gesê dat dit belangrik is om iemand in hul vertroue te neem met wie hulle oor hul probleme kan praat.
Geskenkpakkies is aan die sowat 30 vroue en 20 kinders uitgedeel.
'Ons bring jou die nuutste Van Wyksdorp, Klein Karoo nuus'