OUDTSHOORN NUUS - Lede van die Oudtshoorn-polisie se sosiale misdaadeenheid en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het Saterdagoggend, 30 Mei, saam met jeugdiges wat by die Jeugmisdaadvoorkomings-program betrokke is, by die CP Nel-museum vergader.
Leerders van Aurial College, Bridgton Sekondêr, Fezekile Sekondêr, asook die jeug van die Volkskerk en Toekomsrus, het die byeenkoms bygewoon.
Verskeie uitdagings wat die jeug raak, waaronder geslagsgebaseerde geweld, tienerswangerskappe en werkloosheid, is bespreek. Die moontlike stigting van 'n funksionerende jeugmisdaadvoorkomings-program vir die Oudtshoorn-gebied het ook op die agenda gedien.
Kol. Russel Koeries, bevelvoerder van die Oudtshoorn-speurtak, en die voorsitter van die GPF, Henrico Kumutu, was ook teenwoordig.
Hoe werk die program?
Die Jeugmisdaadvoorkomingsprogram betrek jongmense tussen die ouderdomme van 18 en 30 jaar by misdaad-voorkomings-inisiatiewe in hul gemeenskappe.
Die program dien as 'n jeuggedrewe struktuur wat daarop gemik is om misdaad te voorkom deur jongmense aan te moedig om aktief deel te neem aan bewusmakings- en voorkomingsprogramme. Dit bied ook aan hulle 'n platform om hul idees en voorstelle oor misdaadvoorkoming te deel.
Volgens ao. Leila Claassen, projekkoör-dineerder, is die program daarop gemik om die jeug nouer by die polisie se misdaadvoorkomingsinisiatiewe te betrek.
"Die doel is om jongmense aan te moedig om weg te bly van misdaad en om positiewe jeugontwikkeling te bevorder. Deur die program versterk ons ook die verhouding tussen die polisie, skole en die gemeenskap," het sy gesê.
Jongmense wat belangstel om by die program betrokke te raak, of vir meer inligting kan Claassen by 044 203 9025 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’