OUDTSHOORN NUUS - As deel van die 16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders-veldtog het lede van Oudtshoorn-polisie besoek afgelê by CKI Abattoir as deel van hul poging om die boodskap van die veldtog tuis te bring.
Kolonel Russel Koeries het met 40 werknemers van die abattoir gesels en beklemtoon wat die rol van 'n vader in 'n huis behoort te wees. Hy het hulle aangemoedig om 'n verantwoordelike vakansieseisoen te hê, veral oor die feestyd. "Sorg vir jul familie en pas selfbeheersing toe in jul dade en woorde."
Hy het verder almal aangemoedig om enige vorm van mishandeling onder die aandag van Oudtshoorn-polisie te bring. Hy het uitgelig dat Oudtshoorn tans eerste staan in aanrandingsake binne die Tuinroete-distrik.
Koeries het die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid aangeraak en genoem dat deur betrokkenheid kan noodsaaklike kwessies aangespreek word. Hy het afgesluit deur te noem dat dit 'n kollektiewe aksie is om veiliger woonbuurte te hê.
Ten slotte het hy beklemtoon dat misdaad nie betaal nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’