OUDTSHOORN NUUS - Inkopiegangers by Checkers in die Klein Karoo Markt het Saterdag 23 Mei met skok toegekyk toe twee mans die winkel binnestorm en een van hulle glo die ander met 'n gebreekte bottel in die gesig gesteek het.
Volgens 'n ooggetuie, wat verkies om anoniem te bly weens die trauma wat die voorval veroorsaak het, sal sy nie die geskree van die beseerde man en die paniek onder mense in die winkel vergeet nie.
Die ma van twee jong kinders het gesê hulle het nooit verwag dat só 'n traumatiese voorval in 'n winkelsentrum sou plaasvind nie.
"Wat veronderstel was om 'n eenvoudige gesinsuitstappie te wees om roomys te eet, rond te stap en vinnig inkopies te doen, het binne sekondes in 'n traumatiese ervaring verander wat my kinders waarskynlik nog lank sal onthou," het sy aan Oudtshoorn Courant vertel.
Volgens haar het haar man en seuntjie in die ry by Checkers gestaan om te betaal, terwyl sy en haar dogtertjie nader aan die uitgang gewag het.
"Skielik het twee mans van buite die winkel ingestorm, reg voor ons. Hulle het oor 'n winkelrak getuimel en in daardie oomblik het een van die mans die ander een met 'n gebreekte bottel in die gesig gesteek."
Sy sê die herinnering aan die aanval, die paniek van mense wat begin hardloop het en volwassenes wat ander gewaarsku het om hul kinders se oë toe te hou, sal haar altyd bybly.
"Ek het my dogtertjie gegryp en saam met ander mense probeer wegkom. Daarna het ek na my man en seuntjie gehardloop, my kinders teen my vasgedruk en probeer beskerm teen wat besig was om af te speel."
Die toneel in die winkel is volgens haar gekenmerk deur totale chaos en skok.
"Die verskriklike geluide van die man wat van pyn geskree het, terwyl winkelpersoneel probeer het om die bloeding te stop, sal ons nie maklik vergeet nie. Die ambulans het gelukkig vinnig opgedaag, waarvoor ek opreg dankbaar is. Om onveilig in 'n inkopiesentrum te voel, is onaanvaarbaar."
Sy meen geen ouer behoort huis toe te gaan met kinders wat huil, bewe en probeer verstaan waarom 'n gewone dag skielik gevaarlik geword het nie.
"Ek dink ons het as samelewing begin gewoond raak aan dinge wat nooit normaal behoort te wees nie. Wanneer jy jou eie kinders vashou terwyl iemand 'n paar meter van jou af bloei en van pyn skree, verander iets binne jou. Dit gaan oor meer as net 'n geweldsvoorval, dit gaan oor die trauma wat mense, en veral kinders, opgedoen het. Ons as gemeenskap behoort alles moontlik te doen om openbare ruimtes veiliger te maak."
Inwoners is diep ontsteld oor die voorval, wat te midde van toenemende kommer oor misdaad in Oudtshoorn ook wyd op sosiale media versprei is. Verskeie kommentare en plasings dui op kommer oor onvoldoende sekuriteit by die inkopiesentrum, swak beheer by toegangspunte, ontoereikende wetstoepassing en 'n gebrek aan sigbare polisiëring.
Volgens ao. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is 'n saak van poging tot moord geopen.
"'n 29-jarige man is in hegtenis geneem nadat hy na bewering 'n 23-jarige man met 'n gebreekte bottel in die gesig gesteek het. Oudtshoorn-polisie het op die klagte gereageer en 'n man met beserings aan sy gesig op die toneel aangetref. Hy is per ambulans na die naaste hospitaal geneem, waarna die verdagte in hegtenis geneem is. Hy bly in aanhouding tot sy eerste hofverskyning. Die saak word steeds ondersoek."
Klein Karoo Markt reageer
Die bestuur van Klein Karoo Markt het by navraag gesê die bestuurspan het met groot kommer kennis geneem van die voorval wat Saterdagmiddag, 23 Mei, op die perseel plaasgevind het.
"Ons gedagtes is eerstens by die beseerde persoon en sy familie. Ons wens hom 'n spoedige en volkome herstel toe. Ons veiligheidsdiensverskaffers het deurentyd volgens gevestigde veiligheidsprotokolle opgetree en die bestuur is onmiddellik van die voorval in kennis gestel.”
"Ons spreek ons waardering uit teenoor ons sekuriteitspersoneel vir hul vinnige optrede, asook teenoor die polisie en nooddienste vir hul bystand. Ons werk ten volle saam met die polisie en ondersteun die ondersoek wat tans aan die gang is."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’