OUDTSHOORN NUUS - Mckellen Botha van Aurial Kollege en Sakhe Kweba van Hoërskool Oudtshoorn is verlede Vrydag as Aurial Kollege se eerste Poetry Slam-kompetisie wenners in hul onderskeie kategorieë aangewys.
Die kompetisie het op Erfenisdag plaasgevind en is ook via die skool se Facebook-blad lewendig uitgesaai.
Bekende vermaaklikheidsterre soos die draaiboekskrywer Ricardo Arends, Lee- Anne van Rooi (aktrise), MC Raynard (digter en kunstenaar) en rymkletskunstenaar Jaynion Kennedy aka Noemwoord, het deel van die gedugte beoordelaarspaneel gevorm.
LEES: Vyftien hoërskoolleerders vir Poetry Slam gekies
Paul Amas van House of Entertainment het op sy beurt gesorg dat die sukses van die funksie in eg Klein-Karoo-styl gevier word.
Meeste van die 15 leerders van Aurial Kollege, Bridgton Senior Sekondêr en Hoërskool Oudtshoorn wat die vorige week na suksesvolle oudisies vir die Poetry Slam-eindronde gekwalifiseer het, se voordragstukke was gebaseer op sosiale kwessies wat gemeenskappe op ‘n daaglikse basis ervaar.
Volgens een van die organiseerders Meadri Cloete, was dit opmerklik dat baie van die jong deelnemers die kwessie van vrouemishandeling en liefde aangespreek het.
"Dit was duidelik dat hierdie kwessie jong lewens op ‘n negatiewe manier affekteer en emosies was sigbaar tasbaar. 'n Pluimpie ook vir Arends en Raynard wat spontaan gedurende die vertoning met die manlike leerders oor hierdie kwessies gesels het. Oor die algemeen was dit 'n uitstekende voorlegging van gedigte wat ons diverse erfenis puik gereflekteer het."
Eliza le Roux, projekkoördinnerder, het namens Aurial Kollege die borge bedank en beloof dat die publiek volgende jaar na nog 'n gedigtebelaaide- Poetry Slam kan uitsien.
Sakhe Kweba was die wenner in die 16-18 jaar-kategorie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'