OUDTSHOORN NUUS - 'n Besondere eer het twee lede van die Klein Karoo Skryffabriek (voorheen die klein Karoo Skryfkring) in Oudtshoorn te beurt geval.
Coen Basson en Maretha van der Westhuizen se kortverhale is in die Universiteit van Stellenbosch se 100-jarige gedenkbundel 100% opgeneem.
Basson is ‘n senior finansiële adviseur by Sanlam, terwyl Van der Westhuizen ‘n boervrou in die Herold-omgewing is. Albei is kranige storievertellers en albei skryf “van altyd af”.
Basson het op ’n plaas in die Kamanassie naby Uniondale grootgeword. “Veral my pa was ’n wonderlike storieverteller en ek wil nie daardie talent laat verlore gaan nie,” vertel hy.
Nadat Basson BA (Hons) UOD aan die Universiteit van die Vrystaat met Afrikaans en Geskiedenis as hoofvakke studeer het, het hy as hoërskoolonderwyser by verskillende skole in die Vrystaat Afrikaans, Geskiedenis en Engels aangebied. “Ek is passievol oor Afrikaans en die taal is vir my ‘n lewende kunsvorm.”
Sy skryfwerk het ‘n hupstoot gekry toe hy in die vroeë 2000’s deur Die Burger se Motorbylaag in die Suid-Kaap genader is om oor sy 4x4-toere, die omgewing en die natuur te skryf en talle artikels uit sy toerpen het gereeld verskyn.
Hy is die jaar voorsitter van die Klein Karoo Skryffabriek, waaraan Van der Westhuizen ook behoort, en sedertdien het die fabriek verskeie wennerskrywers vir onder meer die gesaghebbende Bloemfontein Skrywersvereniging opgelewer.
Van der Westhuizen is as wenner van die 2017 kompetisie aangewys, met Hannes Visser, redakteur van Oudtshoorn Courant, ook lid van die Skryffabriek, in die tweede plek.
In 2017 het die Basson en Van der Westhuizen ingeskryf vir die US Woordfees se kortverhaalkompetisie tydens die universiteit se 100ste bestaansjaar. Altesaam 237 verhale is ingeskryf waarvan 25 verhale in die feesbundel, getiteld 100%, opgeneem is.
Basson, as debuutskrywer, se kortverhaal Bemagtiging, en Van der Westhuizen se verhaal Waarheid is saam met kortverhale van verskeie bekende skrywers opgeneem in dié bundel wat tyens die onlangse US Woordfees bekendgestel is.
Basson is opgewonde oor die Skryffabriek se toekoms. “Met die toekennings wat ons gekry het, het mense van oor die land kennis geneem van die ontwikkeling van skryftalent in die Klein-Karoo. Ons kry navrae van aspirant-skrywers van elders wat vir ons hul verhale wil stuur en as afstandslede deel van KKSF wil word.”
Vir inligting oor die Klein Karoo Skryffabriek, kontak Coen by 084 233 3600.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'