OUDTSHOORN NUUS - Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit speel ’n groot rol in die ekonomiese groei en werkskepping binne die Tuinroete en Klein-Karoo deur ondersteuning en bystand aan mikro, klein en medium besighede te bied.
Sedert die aanvang van die Klein-en Medium Ondernemingsbystandprogram in 2019 het die Tuinroete-distriksmunisipaliteit meer as R3 miljoen aan 121 begunstigdes bestee.
Altesaam 13 besighede baat uit die program waarvan een in Oudtshoorn, Natural Hair Products, is. Wat die besigheid besonders maak is dat dit deur jongmense uit Oudtshoorn bedryf word.
’n Spesiale geleentheid het by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in George op 1 Augustus saam met rolspelers en die burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, Andrew Stroebel,plaasgevind.
Personeel van plaaslike ekonomiese ontwikkeling, die Wes-Kaapse ekonomiese ontwikkelingsvennootskap het deel uitgemaak van die dag se program.
In sy toespraak het Stroebel genoem dat die ekonomiese program een is wat die gebied se visie van inklusiewe groei na aksie oorneem.
“Deur die program gee ons klein besighede die hupstoot wat hulle benodig om verder en vinniger te groei, want ons weet dat ware ontwikkeling in plaaslike klein besighede lê en dat hulle die voorlopers is vir bemagtiging wat na verandering in gemeenskappe kan ly.”
Stroebel het die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en die ekonomiese ontwikkelingspan, en in besonder Rosina Ruiters bedank vir die rol wat hulle in die program speel.
Die doel van die program is om besighede te versterk, verbeter en uit te brei deur bystand met toerusting, voorraad en ander benodighede.
Ten slotte het Stroebel genoem dat klein besigheidseienaars aangemoedig word om deel te neem aan die inisiatief.
Die bystandsprogram bly inklusief en is daar geen beperkinge rakende geslag, ouderdom of ras nie. Die keuring van begunstigdes is streng in lyn met die program se doelwitte.
Kontak Johannes Jafta, ekonomiese ontwikkeling beampte by 071 860 8341 of Natalie Raubenheimer by 078 800 4172 vir enige navrae.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’