LADISMITH NUUS - Vir Kylie Uithaler (19) van die plaas Spera, op Hoeko buite Ladismith, het 'n droom waar geword.
Sy gaan vir twee weke op 'n appel- en peerplaas in Nederland werk. Sy is deel van 'n studente-uitruilprogram van die Yuverta Landboukollege in Nederland.
Nadat Uithaler aan die Hoërskool Ladismith gematrikuleer het was sy doodseker dat sy 'n loopbaan in landbou wou volg. Na matriek het sy die spreekwoordelike "gap-jaar" gevat en op 'n plaas naby Ceres gaan werk waar sy waardevolle praktiese ondervinding opgedoen het.
"Ek voel as dit nie vir hierdie jaar was nie, ek nie so baie van vrugte sou weet nie," sê 'n gemotiveerde Uithaler.
In 2020 het sy aan Elsenburg Landbou-kollege begin studeer waar sy deel van die vakleerlingskapprogram geword het. In 2021 het sy haar eerste jaar diplomakursus begin. Sy is ook in hierdie jaar tot die studenteraad verkies.
Sy is tans in haar tweede jaar met hortologie, die wetenskap, tegnologie en besigheid van intensiewe plantkweking as hoofvak. Sy is in Maart as een van vier studente gekies om in Nederland te gaan studeer.
"Ons gaan as Suid-Afrikaners leer hoe die Nederlanders dinge doen en ook aan 'n verskeidenheid programme deelneem. Vir my, 'n kind van Hoeko, is dit 'n hoogtepunt in my loopbaan en is ek regtig trots hierop. Ek glo dat daar nog groot dinge in die landbousektor vir my wag. My boodskap aan ander jongmense en veral plaaskinders is wees lief vir jouself, weet wat jy in die lewe wil hê en werk hard daarvoor. Waar daar 'n wil is, is daar 'n weg."
Volgens haar is haar loopbaan en haar ouers vir haar die belangrikste.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Karoo nuus'