OUDTSHOORN NUUS - Die immergewilde Prins Albert-leesfees keer vanjaar terug en sal vanaf Vrydag 29 Augustus tot Sondag 31 Augustus plaasvind.
Hierdie geliefde literêre geleentheid, wat reeds vir meer as 'n dekade boekliefhebbers van oor die land lok, beloof weer 'n propvol program wat skrywers, boeke en kultuur vier.
Ná die groot sukses van verlede jaar se skuif na die Showroom-teater, is dié venue weer vanjaar die hoofverhoog. Die positiewe terugvoer van feesgangers het dit 'n logiese keuse gemaak.
Soos in die verlede, sal 'n diverse program van boeke en gesprekke uit verskillende genres saamgestel word. Hoewel die volledige program nog nie gefinaliseer is nie, het verskeie bekende skrywers reeds hul deelname bevestig. Onder hulle tel Martin Steyn, Andrew Wilson, Tom Dreyer, De Wet Bischoff en die bekende kunstenaar, Alex Hamilton.
Die fees open Vrydagaand met 'n spesiale huldeblyk aan die lewe en werk van die geliefde Afrikaanse skrywer Annelie Botes, 'n naam wat onlosmaaklik aan Afrikaanse letterkunde verbind is.
Op Sondagoggend word die program afgeskop met Poetry at Sunrise op Kritikomkoppie, 'n unieke poësie-ervaring wat verlede jaar vir die eerste keer aangebied is en deur baie as 'n hoogtepunt van die fees beskou is. Die res van die oggend sal plaaslike skrywers hul werk en stories deel.
Tradisioneel sluit die fees af met 'n spesiale ete op Sondagmiddag, voorberei uit die kookboek van 'n bekende persoonlikheid.
Vanjaar se gaskok is die veelbekroonde neurochirurg, avonturier, kok én stigter van Pediatric Care Africa, dr. André Hattingh, wat uit sy boek, Cooking with Doc sal kook.
Skryfkompetisie
Die gewilde skryfkompetisie, wat verlede jaar weer ingestel is, sal ook vanjaar voortgesit word, mits daar 'n borg vir die prysgeld gevind word.
Feesprogram
Die volledige feesprogram sal teen middel Mei beskikbaar wees en kaartjies sal dan deur Quicket bespreek kan word.
Akkommodasie
Belangstellendes word aangeraai om hul akkommodasie vroegtydig te bespreek, aangesien Prins Albert, die juweel van die Karoo, in dié tydperk baie gewild is onder toeriste en kultuurliefhebbers.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’