OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Tuisnywerheid, die oudste tuisnywerheid in die dorp, het op 20 Mei hul algemene jaarvergadering gehad waartydens Petro Heyns vereer is.
Volgens Nerina Arling, voorsitter van die direksie van die tuisnywerheid die afgelope sewe jaar, was dit 'n gepaste tyd om hulde te bring aan Heyns wat sedert 1971 by die onderneming betrokke is. Sy dien ook as lid van die direksie van die tuisnywerheid.
"Petro was een van die eerste stigterslede in 1971. Ons wil haar vandag eer vir haar ongelooflike bydrae oor die afgelope 54 jaar."
Heyns is op 22 Junie 1944 gebore en is byna 80 jaar oud. Arling sê sy is steeds aktief betrokke by die tuisnywerheid.
"Sy is 'n meesterbakster, bekend vir haar heerlike koeke, brandewynterte, pasteie, sitroenkonfyt en gewilde vyf-sade beskuit. Alhoewel sy haar bakwerk nou begin afskaal, sal haar gehalte handewerk steeds by die tuisnywerheid beskikbaar wees. Sy is 'n perfeksionis in alles wat sy aanpak. Sy toets selfs haar breispanning vooraf om seker te maak alles is presies reg voordat sy aan die regte artikel begin werk."
Heyns is vaardig in brei, borduurwerk, hekel en vele ander handwerk, en het al verskeie pryse vir haar uitsonderlike werk tydens VLV-kompetisies gewen.
"Petro het altyd 'n grappie gereed en vertel graag stories van die ou dae. Sy is altyd netjies, stap self winkels toe, bly goed ingelig en lees graag die koerant, sy is ook 'n groot sportliefhebber, veral van tennis, en 'n diep gelowige mens," voeg Arling by.
Heyns het onlangs by Tuishuis ingetrek.
"Ondanks haar besluit om haar bakwerk te verminder, bly Petro steeds 'n aktiewe en geliefde lid van ons tuisnywerheid. Ons waardeer haar onmeetlike bydrae om die tuisnywerheid se naam deur die jare hoog te hou."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’