DYSSELSDORP NUUS - 'n Pastoor van Dysselsdorp wat aan verkragting van 'n tweeling in sy kerk skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir 40 jaar tronk toe gestuur.
Freddy Jaftha (50) het die dade met die tweeling in 2017 en 2018, vandat hulle 16 jaar oud was, gepleeg en elke keer gesê: "Dit is wat die Here wil hê."
Hulle het angsaanvalle tydens menstruasie gekry en nadat mediese hulp nie gehelp het nie, het hy aangebied om hulle te genees.
Sy getuienis in die hof sowel as dié van sy vrou is deur die hof as leuenagtig verwerp.
Die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, het in haar voorvonnisbetoog gesê dat die belang van die gemeenskap sterk na vore kom en die twee slagoffers vir die vonnisverrigtinge hof toe gekom het om afsluiting te kry. Verswarend vir vonnis is dat Jaftha die kinders se geestelike leier was wat sy vertrouensposisie misbruik het en dat hulle steeds traumatiese ervarings beleef.
Jaftha se regsverteenwoordiger, adv. Stephan Lourens, het die hof versoek om in ag te neem dat hy nie 'n baie gesonde persoon is nie en sy gesin se enigste broodwinner is. Hy is ook nie meer jonk nie en dit was ook nie die wreedste verkragting waaraan hy skuldig bevind is nie.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê dit is skokkend dat Jaftha as 'n pastoor die dade met die kinders gepleeg het en elke keer gesê het dat dit die Here se wil is.
Hy het die kinders belowe dat hy hulle sal gesond kry en hulle het hom geglo.
Hy het gebid en hulle met olyfolie gesalf. Hy het hulle dan verkrag en gesê dat hulle hul by die huis moes gaan uitwas en vir niemand vertel nie. Met een van die twee, moes sy haar skoolklere in die kerk uittrek waarna hy geslagsgemeenskap met haar op 'n mat gehad het.
Die een suster het aanvanklik nie geweet wat die beskuldigde met die ander gedoen het nie.
In hul impakverslae sê hulle dat hulle nooit kon dink dat hulle hul maagdelikheid op die manier sou verloor nie. Jaftha toon ook geen berou nie en die twee susters het deur geweldige trauma gegaan terwyl die een selfs aan selfmoord gedink het.
"Die hof moet met vonnis 'n boodskap uitstuur dat dié soort misdade swaar gestraf sal word. Die wreedheid en afskuwelikheid teenoor kinders en vroue is onaanvaarbaar en die oortreders moet gepas en effektief gestraf word."
Oor geen fisiese beserings het die landdros gesê dat dit 'n totale wanpersepsie geword het.
"Verkragting het 'n kanker in ons gemeenskap geword."
Die hof het wel bevind dat wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf.
Jaftha is 15 jaar gevangenisstraf opgelê op die klagte dat hy die een suster met sy vingers gepenetreer het en 25 jaar deurdat hy die ander suster verkrag het. Die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.
Die kinders se pa het na die hofsaak sy tevredenheid met die vonnis uitgespreek en gesê die familie is bly dat die saak uiteindelik nou agter die rug is.
Vorige artikel: Pastoor wat verkrag in 2021 gevonnis
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'