OUDTSHOORN NUUS - 'n Man (47) bevind homself tans in die tronk in verband met Abraham Heradien (60), van Hazenjacht-omgewing se dood.
Volgens Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, sers. Chris Spies, het die ondersoek aangedui dat 'n verkeersbeampte op 21 Maart ongeveer 12:00 die voertuig van die 47-jarige man op die N12 afgetrek het.
Die bestuurder van die voertuig het aangedui dat hy sy passasier dringend na die hospitaal moet neem.
Spies sê dat die polisie ontbied is en met hulle aankoms is gevind dat die slagoffer veelvuldige steekwonde aan sy liggaam gehad het, hy is deur paramedici op die toneel dood verklaar.
"Verdere ondersoek het tot die arrestasie van die verdagte gelei, en het hy sy eerste hofverskyning op 23 Maart in die Oudtshoorn-landdroshof gemaak," sê Spies.
Die saak is tot 31 Maart vir 'n formele borgtog uitgestel.
Oudtshoorn Courant het met die oorledene se vrou, Hester Heradien, na die hofverrigtinge op 23 Maart gesels. Sy kan steeds nie glo wat gebeur het nie. Sy het vertel dat die beskuldigde aan hulle bekend is en dat hy op die dag van die moord homself glo vermom het, want sy vertel dat hy soos 'n vrou gelyk het. Sy het verder vertel dat die beskuldigde hulle glo op 'n vorige geleentheid gehelp het om vir Sassa aansoek te doen asook om glo 'n lewenspolis op Abraham se naam uit te neem.
Die Heradien-paartjie was sedert 1981 saam en is in 1988 getroud. Abraham word oorleef deur sy vrou. Die paartjie was kinderloos.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’