TUINROETE DISTRIKSNUUS - Poësieliefhebbers in Groot-Brakrivier is vandeesweek getrakteer nie net met digkuns uit die boonste rakke nie, maar boonop aangebied en voorgelees deur die drie digters van formaat.
Die geleentheid was 'n bekendstelling en bespreking van die pandemiebundel, Maskers en Mure, waarin die gedigte van gevestigde asook opkomende digters vervat is.
Die byeenkoms is op Woensdag, 8 September in die bekende Peperboom Restaurant gehou.
Magdom gedigte
Turksvy Publikasies, onder eienaarskap van skrywer, digter en redakteur van die Oudtshoorn Courant, Hannes Visser en sy venoot, die veteraan-joernalis Marlene Malan, was vir die publikasie van die bundel verantwoordelik.
Digters Francois de Jongh en Daniël Hugo, was gemoeid met die keuring en samestelling van die gedigte. Beide word gereken onder die sogenaamde Tagtigers.
Visser, wat in 2019 met sy bundel, Die jaar toe pa gedebuteer het, het die gesprek oor die digkuns, digters en die nuwe bundel gelei. Die drie digters het van hulle eie werk, asook ander gedigte in die pandemiebundel voorgelees.
De Jongh, wie se breinkind die bundel oorspronklik was het verduidelik waar die inspirasie daarvoor ontspring het.
“Dit was so ‘n ongelooflike, nuwe ervaring om in ‘n wêreld te leef wat jy nie ken nie. Ek het gevoel dit moet vasgevang word.” Na hierdie ingewing het De Jongh, Hugo gekontak vanweë sy breë kennis van en kontak met die digterswêreld. Op Hugo se uitnoding om deelname aan 100 gevestigde digters, is bydraes van 80 ontvang, wat in die bundel vervat is.
Die idee was egter ook om vir ongepubliseerde digters ‘n kans te gee en ‘n verdere 600 bydraes is ontvang na uitnodigings op sosiale media asook in gedrukte media. Hieruit is 60 gedigte gekies.
“Die bundel met sy 142 gedigte, is baie omvattend en bevat alle soorte gedigte. Ook gedigte wat ons soms laat lag vir die virus,” som Hugo op. Hy het ook vertel dat die digter MM Walters, wat in Julie 2020 op 90-jarige ouderdom afgesterf het se heel laaste gedig in die bundel opgeneem is.
Oor skryfwerk
Die gehoor het plek-plek inderdaad geskater vir Visser se aweregse onderhoudtrant.
Visser het verwys na De Jongh se sogenaamde “digterstilte” na sy debuutbundel in die jare tagtig verskyn het en hy eers weer in 2019 saam met ander digter in ‘n bundel gepubliseer het. De Jongh het kortliks vertel van sy onderwysdae en ook hoe ‘n lewe in die joernalistiek nadat hy vir 23 jaar lank ‘n koerant bedryf het, sy kreatiewe skryfwerk beïnvloed het.
“Ek het my siel uitgeskryf aan alles. Hartseer, lyding, plesier, goed nagevorsde artikels, die tyd vir kreatiewe skrywerk was min. Ek het vir die laai en die snippermandjie geskryf, maar ek skryf nou weer voltyds. Die muse is terug.”
De Jongh het uitgebrei oor die dinge wat sy digkuns beïnvloed en vertel dat as ‘n boorling van Kakamas, het sy pa se liefde vir die droë veld by hom inslag gevind –“om daardie eenvoud in woorde saam te vat”.
Hugo, wat deur Visser tereg beskryf is as een van die mees produktiewe digters in Arikaans, het bo en behalwe sy betrokkenheid by Maskers en Mure, ook sy eie bundel, Klinkklaar vanjaar die lig laat sien en daaruit voorgelees. Hugo het 17 digbundels op sy kerfstok
Op ‘n vraag van Visser oor wat ‘n goeie gedig behels, was Hugo se kundige opinie: “’n Gedig moet ‘n sekere samehang hê en ‘n deurlopende argument. Daar moet klankbindings wees en die beeldspraak moet klop.”
Hieroor het hy veral uitgewei dat groentjies dikwels te veel beelde opstapel met die gedagte dat “hoe meer beelde, hoe beter die gedig”. Sy kommentaar hierop was: Jy moet Breyten Breytenbach wees om dit met sukses te kan doen.”
Visser, De Jongh en Hugo het van hulle eie werk, asook van die gedigte in die pandemiebundel voorgelees.
'n Plaaslike digter, Gerrit Theron se werk is in Maskers en Mure opgeneem. Hy was teenwoordig om sy gedig voor te lees. Theron, ook ‘n Karookind het vertel dat sy gedig deur ‘n skilpad se vryheid van beweging geïnspireer is. “Want hier in die grendeltyd was ek ingeperk in my huis en die skilpad kan vry rondbeweeg met sy huis en al.”
Gerrit Theron lees sy gedig voor.
Foto: Cornelle Carstens
Digters Francois de Jongh (links) en Daniël Hugo tydens die gesprek.
Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'